ADVERTISEMENT:

 

Min inwoners steur hulle aan verbod op afvuur van vuurwerke

 

News  Date: 11 January 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Ten spyte van wetgewing en munisipale regulasies wat persone verbied om sonder skriftelike toestemming vuurwerke af te vuur, het dit oor die kerstydperk duidelik geblyk dat weinig inwoners hulle hieraan stuur.

Soos oudergewoonte was dit weer die dorp se troeteldiere wat die prys vir dié "plofbare" tydverdryf moes betaal. In een geval moes 'n verskrikte hond uitgesit word, nadat hy verstrengeld geraak het in lemmetjiesdraad in 'n poging om van die ontploffings weg te vlug. In sy sparteling om uit die draad te kom, is sy rug op drie plekke gebreek.

Volgens mev. Bea Reimer van die plaaslike DBV (Dierebeskermingsvereniging) het hulle tussen Kersdag en Nuwejaar sowat vyftien verskrikte en getraumatiseerde honde by die DBV opgeneem. Meeste van die honde is deur inwoners ingebring, nadat die verskrikte diere skuiling kom soek het by hul wonings. Baie van die diere was teen druktyd nog nie deur hul eienaars opgeëis nie.

"'n Mens kan nie die glo hoe ongeskik sekere mense kan wees wanneer hulle uitvind hul verlore hond is by die DBV nie. Een persoon het ons selfs daarvan beskuldig dat ons sy hond gesteel het. Baie van hulle kom haal ook net hul troeteldier en ry weer, sonder om eers dankie te sê of 'n donasie te gee," vertel mev. Reimer.

Die kwessie rondom die onwettige afvuur van vuurwerke het ook wye reaksie ontlok in plaaslike geledere en sommige ongelukkige inwoners het voorgestel dat vuurwerke en die afvuur daarvan heeltemal verbied moet word op die dorp. Talle inwoners het ook hul ongelukkigheid uitgespreek oor die Raad en polisie se skynbare onvermoë om effektiewe wetstoepassing te doen ten opsigte van die onwettige afvuur van vuurwerke. Na wat verneem word is daar net 'n paar persone aangekla van rusverstoring.

Buiten vir 'n munisipale ordonansie wat persone verbied om vuurwerke af te vuur in 'n munisipale gebied sonder die skriftelike toestemming van die Hoof Beskermingsdienste, is dit ook ingevolge die Wet op Ontplofbare Stowwe (Wet 26 van 1956 soos gewysig) 'n kriminele oortreding om vuurwerke sonder skriftelike toestemming van die plaaslike bestuur af te vuur.

Die Wet op Ontplofbare Stowwe stel dit ondermeer duidelik dat handelaars 'n geldige lisensie moet kan toon indien hulle vuurwerke verkoop. Daar mag ook geen vuurwerke aan kinders onder die ouderdom van 16 jaar verkoop word nie en kinders onder 16 jaar mag ook nie toegelaat word om vuurwerke af te vuur sonder volwasse toesig nie. Daarbenewens moet die perseel waar vuurwerke gehanteer word twee uitgange hê en waar slegs een uitgang beskikbaar is, moet vuurwerke agter in die perseel gehou word. Vuurwerke mag ook nie in 'n vertoonvenster uitgestal word nie en kennisgewings met die woorde "Dealer in Fireworks" of "Handelaar in Vuurwerke" moet duidelik buitekant die perseel aangebring word. 'n Duidelike "Rook Verbode"-teken moet ook op die perseel aangebring word.

Wat boetes betref, kan persone ingevolge die munisipale ordonansie met R2 000 of ses maande gevangenisstraf beboet word, terwyl persone wat enige aspek van die Wet op Ontplofbare Stowwe oortree 'n boete van R600 of twaalf maande gevangenisstraf opgehef kan word. In laasgenoemde geval kan 'n persoon ook gelas word om beide die boete te betaal en die gevangenisstraf uit te dien, terwyl alle ontplofbare stowwe in sy/haar besit verbeurd verklaar word.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines