ADVERTISEMENT:

 

Twee van Triegies se leerlinge onder top twintig in provinsie

 

News  Date: 11 January 2002

 

LOUIS TRICHARDT - Die matriekpresteerders van 2001 het weereens toegesien dat Hoërskool Louis Trichardt as een van die uitblinker akademiese skole in die Noordelike Provinsie gereken word.

Twee van die matrikulante, Wilmari Bekker (5de) en Andreas Alberts (12de) eindig onder die Top 20 matrikulante in die provinsie.

Wilmari behaal 'n groottotaal van 2021 punte uit 'n moontlike 2300. Haar ses onderskeidings word behaal in Afrikaans Eerste Taal HG, Engels Tweede Taal HG, Wiskunde HG, Natuur en Skeikunde HG, Rekeningkunde HG en Rekenaarstudie HG.

Andreas behaal vyf onderskeidings op Hoër Graad in Afrikaans Eerste Taal, Engels Tweede Taal, Natuur en Skeikunde, Rekenaarstudie en Biologie.

Lindie van den Heever behaal ook vyf onderskeidings in Afrikaans Eerste Taal HG, Engels Tweede Taal HG, Biologie HG, Reis en Toerisme SG en Hotelhouding en Spyseniering SG.

Ses leerlinge behaal elk vier onderskeidings, waar Afrikaans elke keer die Eerste Taal is, Engels telkens die Tweede Taal en al die onderskeidings op Hoër Graad is. Elmien Bonnema se onderskeidings verwerf sy in Afrikaans, Engels, Rekeningkunde en Rekenaarstudie; Melanie Burger kry A's in Afrikaans, Engels, Ekonomie en Bedryfsekonomie; Nada de Villiers behaal onderskeidings in Afrikaans, Engels, Natuur en Skeikunde en Biologie; Deon Joubert verwerf sy A's in Engels, Ekonomie, Rekeningkunde en Rekenaarstudie; Welmé Palm verkry haar onderskeidings in Engels, Rekeningkunde, Ekonomie en Rekenaarstudie, terwyl Etienne van Niekerk presteer deur A's te behaal in Engels, Rekeningkunde, Bedryfsekonomie en Ekonomie.

'n Verdere agt leerlinge behaal drie onderskeidings elk, naamlik Amanda Eksteen, Nelia Jeffries, Yvette Leonard, Angelo Marais, Sagrys Nortjé, Willie Steenkamp, Michelle van Niekerk en Desré van Vuuren.

Ann Adam, Runet de Wet, Michelle Engelbrecht, De Wet Fouché, Marisa Naudé, Solette Small en Bennie van der Waal spog elk met twee onderskeidings, terwyl 'n verdere 17 leerlinge een onderskeiding elk behaal.

Die prestasie word verder beklemtoon deur die feit dat die kleinerige groep van 98 matrieks 'n totaal van 97 onderskeidings behaal het. Die uitslae van die vakke waarin vanjaar nasionale vraestelle geskryf is, is ook insiggewend. 'n Totaal van 47 onderskeidings is in die vakke Engels Tweede Taal, Wiskunde, Natuur en Skeikunde, Biologie en Rekeningkunde behaal. Veral Wiskunde en Natuur en Skeikunde het 'n merkbare verbetering op die uitslae van 2000 getoon.

"Dankie aan elke personeellid wat deur die leerlinge se skoolloopbaan 'n aandeel aan die leerlinge se puik prestasies gehad het. Veral opregte dank aan die matriekpersoneel van 2001 vir u insette en toewyding om die leerlinge te inspireer en toe te rus," sê mnr. Denner.

"Die donker kant van die matriekuitslae is die slaagsyfer van 95%. Dit is egter 'n duidelike bewys dat, te midde van al die polemiek rondom die aanpassing van matriekpunte, slegs die deurlopende harde werk van 'n getroue skoolbesoeker 'n slaag in dié belangrike eksamen verseker. Ons hoop dat die matriekgroepe dit in die toekoms ter harte sal neem en dat die skool in die jare wat kom weer 'n goeie rekord van 100% slaagsyfers sal bou," sê hy.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines