

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 January 2002
LOUIS TRICHARDT – Misdaad in die algemeen het gedurende 2001 'n merkbare afname van sowat 22% getoon en oor die kerstydperk alleen het misdaad met sowat 50% gedaal in vergelyking met die ooreenstemmende tyd in 2000.
Volgens die plaaslike SAPD het veral misdade soos winkeldiefstal, diefstal uit voertuie, voertuigdiefstal en roof gedurende die kerstydperk drasties gedaal. In Desember was daar selfs minder voertuie gesteel as in November verlede jaar.
Die afname in misdaad in Desember kan hoofsaaklik toegeskryf word aan verskeie spesiale operasies deur die plaaslike beskermingsdienste soos die polisie, kommando en verkeersafdeling.
Die jaarlikse Jeug-teen-Misdaad-projek vanaf 18 tot 31 Desember het ook 'n groot rol gespeel in die bekamping van misdaad. Sowat 150 van die streeks se jong mense het op 'n daaglikse basis aan die projek deelgeneem. In dié verband het die gemeenskap ook 'n belangrike rol gespeel om die sukses van die projek te verseker.

ADVERTISEMENT:
