ADVERTISEMENT:

 

Dienssentrum staar krisis in die gesig

 

News  Date: 11 January 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Die SAVF Dienssentrum staar opnuut 'n krisis in die gesig met die aankondiging dat alle maatskaplike dienste by die sentrum moontlik gestaak sal moet word, indien 'n geskikte geregistreerde maatskaplike werker nie binne drie maande gevind kan word nie.

Die pos van maatskaplike werker, wat reeds sedert November 1946 bestaan, het in November 2001 vakant geraak en kon sedertdien nog nie weer gevul word nie.

Volgens mev. Erna du Toit (SAVF Streeksbestuurder) het sy persoonlik al met 29 kandidate landwyd gepraat, asook die pos nasionaal geadverteer, meer tot op hede kon niemand nog hul weg oopsien om die pos te aanvaar nie. Intussen raak die probleem rondom die voorsiening van noodsaaklike maatskaplike dienste aan die sentrum se sowat 200 kliënte al hoe erger en het mev. Du Toit selfs gedurende Desember haar verlof opgeoffer en ingestaan as maatskaplike werker. Sy moes egter begin Januarie haar normale amp weer hervat.

"Ek bedien sestien dorpe vanaf Phalaborwa tot by Thabazimbi en al wil ek ook hoe graag, kan ek nie twee poste hanteer nie," het mev. Du Toit gesê.

Die krisis rondom die aanstelling van 'n maatskaplike werker het intussen die hoofbestuur van die SAVF in Pretoria genoop om 'n versoek in te dien by die regering dat die pos vir 'n periode van drie maande gevries moet word. Dit beteken nie net dat geen maatskaplike dienste tydens dié tydperk beskikbaar sal wees nie, maar ook dat die pos heel moontlik deur die regering weggevat sal word indien 'n geskikte kandidaat nie gevind kan word nie. In hierdie stadium subsidieer die regering 'n gedeelte van die posvoordele.

"Indien enige iemand weet van 'n maatskaplike werker wat werk soek, selfs op 'n aflosbasis, moet hulle my asseblief so spoedig moontlik skakel," sê mev. Du Toit. Sy kan geskakel word by tel. 083 628 3846.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines