ADVERTISEMENT:

 

Nederlandse skrywer vereer Van Rooy-gesin

 

News  Date: 21 March 2003

 

LOUIS TRICHARDT – Professor Koos van Rooy, bekende sendeling, bybelvertaler en teoloog, kon op 13 Maart 'n deel van die vrug op sy arbeid pluk toe 'n boek wat sy hele lewensverhaal bevat aan hom oorhandig is.

Die Nederlandse skrywer Jan W. Klijn ken prof. Van Rooy en sy eggenote, Regina, al van 1971 af. Sy boek beskryf die lewensverhaal van Koos en Regina, maar hy begin die boeiende verhaal met Jan Cornelis van Rooy wat in 1858 uit Holland na Suid-Afrika geïmmigreer het. Die boek is in Nederlands geskryf met die titel De Bergen zullen vreden dragen. In die voorwoord noem Jan Klijn die voorwaarde waaronder prof. Van Rooy toegestem het dat die boek geskryf word: "God moet de eer krijgen, Jan, en niet Koos van Rooy, Hij moet wassen en ik minder worden."

De Bergen zullen vreden dragen is in 2002 uitgegee deur De Banier in Utrecht, maar is amptelik oorhandig aan Koos en Regina van Rooy tydens die orreluitvoering van Martin Mans. Jan Klijn is ook die leier van die orrelis se Suid-Afrikaanse konserttoer. Klijn se boek oor die Van Rooys beslaan 252 bladsye.

Dit is egter glad nie die eerste keer dat Koos en Regina se lewensverhaal 'n skrywer na sy pen laat gryp het nie. In sy derde boek oor inwoners van die Soutpansberg, Soutpansbergkuiers, beskryf dr. Paul Prinsloo ook hierdie besondere egpaar van die plaas Sederkrans.

Prof. Van Rooy het in 1956 afgestudeer aan die Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys as predikant van die Gereformeerde Kerk. Op 15 Desember 1956 is Koos met Regina Kruger getroud. In 1957 aanvaar ds. Koos van Rooy en sy jong vroutjie 'n beroep as sendelinge na Siloam in Venda. Daar het Koos met sy natuurlike gegewe taalaanleg en deursettingsvermoë gou die Vendataal baasgeraak. Na drie jaar van bediening in Soweto, is die Van Rooys in 1966 weer terug in hul geliefde Venda. Hul standplaas was Sibasa en hulle het die Gereformeerde Bybelskool Iyani (wat beteken "Gaan!") opgerig.

Vanaf 1975 het 'n tydperk van groot opoffering gevolg, toe Koos 'n beroep na die Hammanskraal Teologiese Skool aanvaar en heen en weer moes pendel. Sederkrans in die Soutpansberge het in 1974 die Van Rooy-gesin se nuwe tuiste geword. Dit was ook die tydperk waarin prof. Van Rooy besig was om die Bybel vanuit die oorspronklike Hebreeuse en Griekse tekste in idiomatiese Venda te vertaal. Prof. Van Rooy het twee doktorsgrade verwerf en het sy emeritaat in 1997 aanvaar.

Die nuwe Venda-bybelvertaling word op 10 Oktober 1998 deur die hoofsekretaris van die Bybelgenootskap in ontvangs geneem. By die geleentheid het prof . van Rooy gesê: "Ons het twintig jaar aan hierdie vertaling gewerk en die beste jare van ons lewe daaraan gegee. Maar ek staan nie hier vir myself nie … (Die Bybel) is geen gewone boek nie. Nee, dit is die Woord van die lewende God. Dit is die swaard van die Heilige Gees en die saad vir die ewige lewe … Hierdeur sal die (Venda) gemeentes geestelik toegerus word om volgelinge vir Jesus Christus te wen …"

Prof. Van Rooy is benoem as 'n Honorarium Bybelvertaler. "Honorarium beteken jy kry nie geld daarvoor nie," verduidelik prof. Koos glimlaggend. Hy tree op as adviseur vir die Bybelvertalings van verskeie tale in ander lande, waaronder Mosambiek.

Prof. Van Rooy is tans leraar van die Reformed Church Louis Trichardt. Dit het ook al gebeur dat hy (op 70-jarige ouderdom) drie dienste na mekaar op 'n Sondag behartig. Die Van Rooys het vier getroude kinders en tien kleinkinders.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines