

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 March 2003
LOUIS TRICHARDT – Duisende swerms bye wat jaarliks vernietig word, word nou 'n kans op oorlewing gegun deur 'n projek geloods deur 'n plaaslike byeboer, mnr. Chris James.
In plaas daarvan om byeswerms op dorpserwe totaal te vernietig, word hulle gelok na 'n byevangkas wat aan 'n boom opgehang word. Die vangkas word heel gepas Bee Friendly genoem. Vangkaste wat vol bye is, word bymekaar gemaak en vervang met nuwe kaste.
Wanneer 'n swerm bye in 'n dak ingetrek het, is dit ongelukkig nodig om hulle te vernietig. Bye kom egter altyd terug na die plek waar hulle voorheen was. Daarom is dit wenslik om 'n byevangkas aan 'n boom op te hang, om bye daarheen te lok.
Dit is baie belangrik om bye nie net voor die voet uit te roei nie.
"Bye moet nie doodgemaak word nie, maar bestuur word," sê mnr. James. "Die droogte en die Vaora myt, wat jong bye aanval, het 'n sewentig persent afname in byegetalle tot gevolg gehad."
Bye is van die grootste belang in landbou, aangesien 85% van bestuiwing deur bye gedoen word. Subtropiese vrugte, soos avokado's, litchis en veselperskes, asook sitrusvrugte, sagtevrugte en rankgewasse word deur bye bestuif. Sonneblomme se opbrengs word met 70% verbeter wanneer bye ingebring word. Selfs neute, wat bekend daarvoor is dat hulle hulself bestuif, se opbrengs verbeter met 25% wanneer bye teenwoordig is.
Die vangkas waarmee bye gered word, is weerbestand en bio-degradeerbaar. Binne in is houtrame met byewas uitgevoer om die bye te lok. Daarmee kan bye in 'n erf beheer word en terselfdertyd gered word vir aanwending in die landbou.
Bee friendly-vangkaste kan bekom word by Capricorn Gardens in Kroghstraat, Marlene's Kwekery in Douthwaitstraat en Louis Trichardt Signs in President Steynstraat. Die vervaardigingskoste van 'n vangkas is R30 en dit is ook die verkoopprys. As die kas vol bye afgehaal word, kan die eienaar óf 'n nuwe kas neem óf sy R30 terugkry. Die Bee Friendly-diens is beskikbaar vir inwoners in en om Louis Trichardt.
Vir verdere inligting kan mnr. Chris James geskakel word by 083 289 3099 of (015) 517 7128.

ADVERTISEMENT:
