

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 March 2003
LOUIS TRICHARDT – Min mense is bewus daarvan dat die dorp 'n Suid-Afrikaanse opera komponis ryker geword het. "Die pragtige natuurskoon van die omgewing trek my nader aan my Skepper en inspireer my om musiek te skryf. Hier is baie meer inspirasie as in die stad," sê komponis Marius de Bruin.
Heelwat mense ken al vir Marius as die nuwe musiekonderwyser by die plaaslike hoërskool. Sy musiektalente en opleiding strek baie wyd. Nie alleen is hy pianis, violis en koorleier nie, maar uitvoerende orrel is sy passie en komposisie van operas is die groot dryfveer van sy lewe.
Sy talle prestasies en beurse sluit in wenner van die afdeling Beste Orrelis van die Afrikaanse Kunsvereniging (1990 en 1991), wenner van 'n Komposisiebeurs van die Stigting vir Skeppende Kunste (1993 en 1994) en die Pretoria Eistedfod beurs vir begeleiding in 1994. Hy verwerf sy B. Mus. (Uitvoerend) in 1997 aan die Universiteit van Pretoria. Hy het orrel onder dr. Wim Viljoen en komposisie onder prof. Stefaans Grové studeer.
Reeds op negejarige ouderdom het Marius musiekmense verstom deur die Va Pansero uit die opera Nabuccu neer te skryf met volle orkestrasie, nadat hy dit een keer in sy lewe gehoor het tydens sy eerste besoek aan die Staatsteater.
Tydens sy studentejare skryf hy hoofsaaklik kamermusiek, 'n liederstel Onthou op gedigte van Herman Nel en verskeie orrelsimfonieë.
In 1990 (op sewentien) begin Marius aan sy grootste liefde te werk, opera. Sy eerste opera Via Dolorosa het sy premier gesien in 1999 in die Stadsaal van Pretoria. Tydens dieselfde geleentheid ontvang Marius sy titel as orrel virtuoos. Hierdie opera handel oor die lydenstyd en hemelvaart van Jesus. Sedert 1999 is dit nog elke jaar opgevoer.
Sy tweede opera, Mara, wat in November 2001 sy wêreld premier gesien het, het aan Marius Bruin internasionale bekendheid gegee. Hierdie is meer 'n musiekdrama. Dit het aan Marius die bynaam "Suid-Afrikaanse Wagner" besorg, weens die soms oordrewe musikale elemente wat hy gebruik vir emosionele uitdrukking. Van sy werke is in 2002 opgeneem in die VSA.
Tans is Marius besig om sy derde opera, Nabot, te komponeer. Soos met al sy operas, skryf hy self die libretti. Dit alles geskied in die middernagtelike ure wanneer dit stil is en sy inspirasie op sy beste is. Hy maak gebruik van die eklektiese styl, waarin hy van alle style gebruik maak, byvoorbeeld klassiek, barok, romanties en modern. Alhoewel daar alreeds komponiste is wat hierdie styl bemeester het, is Marius die eerste Suid-Afrikaner wat hierdie styl in opera bemeester.
Via Dolorosa word hierdie jaar opgevoer in Nylstroom op 12 en 13 April. Marius beplan om dié opera volgende jaar in Louis Trichardt op te voer. Hy beplan om, buiten sy ingevoerde hoofsoliste, ook van plaaslike talent gebruik te maak.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
