

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 March 2003
LOUIS TRICHARDT – Beskuldigings van onvoldoende toesig is die afgelope week in die rigting van Rugbylapa geslinger, nadat duisende rande se skade verlede Vrydag (7de) klaarblyklik deur 'n groep vandale in hul dronkenskap aan onder meer voertuie aangerig is.
Een ontstoke inwoner, Craig Maynier, vertel dat hy die betrokke aand die lapa besoek het met sy feitlik splinternuwe dubbelkajuit bakkie. Toe hy egter 'n paar uur later weer wou huiswaarts keer, het hy gesien dat een van die bakkie se agterste vensters met 'n baksteen uitgeslaan is. By nadere ondersoek het hy gemerk dat sy selfoon, verskeie CD's, asook sy bestuurderslisensie uit sy voertuig gesteel is. Hy het toe probeer om te ry, maar die bakkie het moeilik gestuur. Dit was toe dat hy opmerk dat iemand beide een van sy voor- en agterwiele, vermoedelik met 'n gebreekte bottel, stukkend gesteek het.
Craig vertel dat hy 'n groep jongmense, wat ook by die lapa gekuier het, gesien het wat uitbundig begin lag het toe hy uitgeklim het om sy bande te inspekteer. Hy het dadelik na 'n vriend se huis gehardloop, vanwaar hulle polisiestasie toe is om die saak aan te meld.
Met hul terugkoms het daar toe 'n verdere skok op hom gewag. Die vandale het, nadat hy na die vriend se huis gehardloop het, weer teruggekeer en gepoog om die radio uit die bakkie te verwyder. Hulle kon dit egter nie regkry nie, maar het in die proses die instrumentepaneel uitmekaar gebreek. Vingerafdrukke is geneem en die polisie kon ook 'n bloedmonster bekom vanaf 'n stukkie van die gebreekte venster. Na wat verneem word is daar die aand ook 'n ander voertuig beskadig.
Mnr. Johan Dreyer van die Rugbylapa het Maandag sy spyt uitgespreek oor die voorval. Hy sê dat die Rugbylapa een van die min kuierplekke vir jongmense in die dorp is en dat insidente soos hierdie 'n negatiewe beeld van die Lapa skep. Hy het die persone wat vir die vandalisme verantwoordelik was skerp veroordeel en gesê dat die Lapa, asook die dorp, nie sulke mense nodig het nie. In dieselfde asem het hy 'n R1 000 beloning uitgeloof vir enige iemand wat inligting kan verstrek oor wie vir die voorval verantwoordelik was.
"Dit is heel moontlik dieselfde persone wat aanhoudend die toerusting en badkamers by die lapa verniel," sê mnr. Dreyer.
Mnr. Dreyer het sy simpatie uitgespreek teenoor Craig. Hy het egter verduidelik dat alhoewel die lapa self onder sy beheer val, die parkeerterrein aan die munisipaliteit behoort. Hy sê dat 'n munisipale wag veronderstel was om aan diens te wees, maar niemand weet waar hy hom die aand bevind het nie. Ten spyte hiervan, het mnr. Dreyer gesê, is dit belangrik vir hom dat sy kliënte veilig voel wanneer hulle die lapa besoek. Hy het onderneem om uit eie sak 'n hoogs gekwalifiseerde beampte aan te stel om die probleem van vandalisme, openbare dronkenskap en persone wat buite die lapa drank aan minderjariges verskaf, aan te spreek en hok te slaan. Hy het ook genoem dat hulle in die proses is van onderhandelings met die plaaslike Raad om die lapa af te sper met 'n aparte ingang.
Persone wat kan help om die vandale vas te trek, kan vir Este skakel by 082 722 5759.

ADVERTISEMENT:
