

ADVERTISEMENT:

generiese foto
News Date: 03 October 2014
Volgens burgerregte-organisasie AfriForum word die waterkrisis regoor die land hoofsaaklik “deur die politieke bewaarders van ons water” veroorsaak en hulle skryf dit toe aan die gebrek aan politieke wil om waterverwante sake volhoubaar te hanteer.
Ook in Makhado (Louis Trichardt) word “oorwinnings” met watervoorsiening tans gekortwiek weens ‘n oënskynlike gebrek aan politieke wil wat saam met die Vhembe Distriks Munisipaliteit (VDM) se voormalige munisipale bestuurder, mnr. Masala Makumule, by die deur uit is. “Wat ons tot dusver bereik het met watervoorsiening, was grotendeels ‘n gevolg van die positiewe skakeling van AfriForum en mnr. Makumule, wat nie meer as munisipale bestuurder optree nie. Hy word ontsettend gemis en onbevoegdheid kenmerk baie van die mense met wie ek nou moet werk,” het AfriForum se Louis Trichardt voorsitter, mnr. Wally Schultz, gesê.
“Die watervoorsiening vir Makhado (Louis Trichardt) sou nie al sover gewees het as die gewone burgers nie ingetree het nie. Die watertekorte wat voorkom, wys waar die politieke wil tans lê,” het mnr. Morné Mostert, AfriForum se Limpopo koördineerder, op 30 September tydens ‘n besoek aan die dorp gesê.
Die VDM is tjoepstil oor die uitvoering van die waterplan wat maar net nie klaar kom nie. ‘n Medianavraag is op 20 September aan die VDM woordvoerder, mnr. Matodzi Ralushai, gerig nadat dele van die dorp weer vir ‘n week sonder water moes klaarkom. Teen druktyd hierdie week het dié navraag steeds onbeantwoord gebly.
AfriForum glo dat maatreëls toegepas moet word om volhoubare bestuur van waterbronne te verseker. Een van die maatreëls behels die instelling van ’n onafhanklike waterreguleerder om as waghond op te tree en te verseker dat die publiek se belange beskerm word deurdat die Departement van Water en Sanitasie, waterrade en alle munisipaliteite aan bestaande wetgewing voldoen. Verder moet die kapasiteit van die privaatsektor meer benut word om waterdienste te bestuur, sodat goeie gehalte watervoorsiening verseker kan word. Daar sal ook beleidsveranderings moet kom om te verseker dat professionele en bevoegde personeel in diens geneem word.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
