

ADVERTISEMENT:

generiese foto
News Date: 03 October 2014
Volgens die Makhado Munisipaliteit is die eerste stap in die proses van appèl teen huiswaardasies voltooi.
Dit behels dat die munisipale waardeerder redes moet verskaf waarom eiendomme vir ‘n sekere bedrag waardeer is. “Diegene wat redes versoek het, is voorsien van redes,” het munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi geantwoord.
Tog sê al die huiseienaars met wie die Zoutpansberger gepraat het, dat hulle nie ‘n enkele rede ontvang het nie.
Nadat die waardasierol vir 2014 tot 2018 vroeër vanjaar oopgestel is vir besware, het besware teen die huiswaardasies ingestroom en die munisipaliteit het bevestig dat hulle 800 besware ontvang het. Die munisipaliteit het briewe aan die huiseienaars uitgestuur waarin hulle van die uitslag van hul beswaar in kennis gestel is. Sommige eienaars se huiswaardasies is ‘n bietjie verlaag en ander is verwittig dat daar geen verandering sal wees nie. Intussen het ‘n Hooggeregshofuitspraak bekend geword waarin die toekenning van die tender om die waardasierol saam te stel as “onwettig” verklaar is.
Inwoners het, onder leiding van instansies soos die burgerregte-organisasie AfriForum en die Soutpansberg Belastingbetalersverengiging (SBBV), na die Munisipale Eiendomsbelastingswet (Wet 6 van 2004) gaan kyk. Daarvolgens kon inwoners wat steeds nie tevrede is met die waardasie van hul eiendom nie, ‘n appèlproses volg.
Huiseienaar Chris Olivier verduidelik dit mooi. “My eiendom was te hoog gewaardeer en na my eerste beswaar het dit ‘n bietjie afgekom. Ek was egter steeds nie tevrede nie en het redes van die munisipale waardeerder aangevra. Ek het ook ‘n voorlopige appèl ingedien en sal my appèl aansuiwer sodra ek die redes ontvang het. Ek het egter nog geen redes ontvang nie. Ek het my e-pos op aanvraag verskaf, dus kan die stakende poskantoor nie die rede daarvoor wees nie,” het Olivier gesê.
Me. Ansie van Jaarsveld het gesê dat sy nog geen redes op skrif, per e-pos of per telefoon ontvang het nie.
Me . Irene Adendorff sê dat sy ook nog geen redes van die munisipale waardeerder ontvang het nie. Ná haar aanvanklike beswaar, is die munisipale waardasie van haar eiendom verlaag. “Ek het in my voorlopige appèl, gedateer 27 Junie, gemeld dat daar geen verbeterings op die eiendom aangebring is nie en die waarde gegee waarvoor vergelykende eiendomme in die buurt verkoop het. Dit is kommerwekkend dat die proses oënskynlik so lukraak aangepak is,” het Adendorff gesê.
Me. Inga Gilfillan, voorsitter van die SBBV, het gesê dat sy ‘n appèl ingedien het, maar nie redes versoek het nie. “Ek het nog geen antwoord op my appèl gekry nie,” het Gilfillan gesê.
Intussen het die munisipaliteit bevestig dat die onafhanklike appèlraad nog nie vergader het om die appèl van die inwoners aan te hoor nie. Wanneer die raad vergader, sal diegene wat appèl aangeteken het, daarvan verwittig word.
Die vraag ontstaan hoe die munisipaliteit kan sê dat die munisipale waardeerder die redes voltooi en verskaf het, terwyl die munisipale waardeerder, mnr. Kulani Nkuna van Risuna Property Consultants and Valuers, reeds ‘n vertroulike skikking met die munisipaliteit in Mei vanjaar geteken het en onttrek het. Daar is geen aanduiding of die munisipaliteit intussen ‘n professionele waardeerder aangestel het om die proses te voltooi nie. Omdat die munisipaliteit nie ‘n professionele waardeerder het nie, mag hulle volgens wet nie die proses voltooi nie.
“’n Nuwe waardeerder sal homself baie vinnig op hoogte moet bring van al die besware en die nodige inligting moet versamel en sal betrokke moet raak by die appèlproses,” het mnr. Morné Mostert, AfriForum se Limpopo koördineerder, gesê. Volgens Artikel 53 (3) van die betrokke wet moes die munisipale waardeerder binne 30 dae nadat die versoeke vir redes deur die munisipale bestuurder aan hom deurgegee is, skriftelike redes verskaf het.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
