

ADVERTISEMENT:

generiese foto
News Date: 03 October 2014
Pas die Makhado Munisipaliteit dubbele standaarde toe as dit kom by hersoneringswetgewing?
In Junie vanjaar het die Makhado Munisipaliteit besluit om toe te slaan op kleuterskole in en om die dorp wat bedryf word vanaf persele wat nie vir dié doel gesoneer is nie.
Die Zoutpansberger het ‘n bietjie navorsing gaan doen oor die hersoneringskostes wat die skole moet betaal, en dit wil tog voorkom of die munisipaliteit se besluit finansieel gemotiveerd was.
In terme van ‘n algemene Raadsbesluit (kennisgewing 185 van 2014) het die munisipaliteit reeds op 6 Desember verlede jaar ‘n resolusie onderteken om die dorpsbeplanning- en hersoneringsfooie in terme van die Makhado Landgebruikskema van 2009 aan te pas. Die nuwe, verhoogde fooie het op 1 Julie hierdie jaar in werking getree.
Baie van die gelyste fooie op die kennisgewing het meer as verdubbel. So byvoorbeeld is die aansoekkoste vir ‘n hersonering nou R3 000 en nie meer R500 soos in die vorige finansiële jaar nie. Hierdie kostes sluit nie advertensiekostes of die heraansluiting van elektrisiteit in nie. ‘n Kleuterskool of speelgroep wat minder as 10 kinders het, sal moet aansoek doen vir spesiale vergunning teen R400 (R250 in die vorige jaar). In die vorige jaar was daar ook nie ‘n boete vasgestel vir die oortreding van die grondgebruikordonansie nie, waar dit nou R5 000 is.
Dit wil voorkom of die munisipaliteit hulle toespits op die kleiner besighede in die dorp, en ‘n blinde oog draai op die meer welaf en bekende sake-eienaars. Die koerant het vroeër in die jaar, by meer as een geleentheid, berig oor Mooketsi Insleepdienste wat onwettig bedryf word vanaf ‘n eiendom in Olifantstraat 80. Die konstruksie- en vervoermaatskappy, Maseakhole Constructability & Projects, doen ook nog steeds onwettig sake vanaf hulle residensiële eiendom in Stubbsstraat.
Hierdie besighede is vandag nog, ses maande nadat die munisipaliteit glo skriftelike waarskuwings aan hulle uitgereik het, steeds aan die gang. Die koerant kon geen spoor kry van dié waarskuwingsbriewe nie, en die munisipaliteit het ook nie op navrae rondom dit gereageer nie.
Buiten vir hierdie navrae is die munisipaliteit ook spesifiek gevra wat die stand van sake is by die onwettige besighede en of hulle ook soos die kleuterskole sal moet hersoneer voor 31 Maart 2015. Teen druktyd het die munisipaliteit nog net ontvangs erken van dieZoutpansberger se navrae, wat Maandag reeds aan hulle gestuur is.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
