ADVERTISEMENT:

 

Bye het drie bullterriërs afgemaai in ‘n erf in Songozwistraat en hul eienaars, mnr. André en mev. Stienie Fourie, wat met bullterriërs teel, hartseer gelaat. Hier lê Tara, die tefie. Tog was dit ‘n effense verligting dat dit nie ‘n beplande aanslag was om sekuriteit te verminder nie.

Bye die oorsaak van lieflinghonde se dood

 

News  Date: 03 October 2014

 

Die Fourie-egpaar van Songozwistraat in Makhado (Louis Trichardt) het met ‘n skok Sondagoggend, 28 September, agtergekom dat hul bullterriërs nie op hul roepe reageer nie.

Viva het doodstil tussen die struike gelê. Tara is langs heiningdraad gevind en Schneeonder ‘n ander struik. “Hulle was vir ons amper soos kinders in die huis,” het die geskokte egpaar gesê. “Viva kon ‘praat’. Sy kon met jou ‘n gesprek aanknoop. Sy het as baba geluidjies begin maak wat nie soos die blaf van ‘n hond is nie en het algaande haar soorte geluide uitgebrei om met jou te kommunikeer,” het mnr. André Fourie met ‘n traan in die oog gesê.

Ná die skokfonds het die egpaar dadelik die polisie laat kom omdat hulle al soveel keer die teiken van pogings tot betreding was. “Kaptein Jordaan van die SAPD het vir ons gesê dat dit vroeg Saterdagaand moes gebeur het want rigor mortis het alreeds ingetree. Ons het bespiegel oor die tipe gif wat gebruik kon gewees het, omdat daar nie skuim by hulle bekke was nie,” het Fourie gesê.

Sondagaand het die Fourie-egpaar maar baie lig geslaap. Die buurtwag, polisie en sekuriteitsmaatskappy het onderneem om hul patrollies daar te verskerp.

Maandagoggend het een van die veeartse by Blouberg Dierekliniek vasgestel dat die honde nie aan gif gevrek het nie. Bysteke is opgemerk en dit is as die oorsaak van die vrektes gereken. Waar mense wat nie allergies vir bysteek is nie veelvuldige bysteke kan oorleef, is honde anders en hul kry maklik nierskade van veelvuldige bysteke en kan vrek. Steeds baie hartseer oor sy honde se dood, was die Fourie-egpaar egter baie verlig dat die honde nie doodgemaak is in ‘n poging om sekuriteit by hul huis te verswak nie.

Fourie, wat al meer as d30 jaar bullterriërs het en met dié ras teel, sal dadelik die honde vervang. Hulle het ook al meer as 10 jaar ‘n byekas en dit het nog nooit probleme veroorsaak nie. Die byekas was op die dak van die motorhuis en die Fouries wil weet wat nou sou kon skeef geloop het?

“Bye raak aggressief as hulle spasie te klein raak, as dit baie warm is of as hulle gesteur word of geïrriteer word deur grassnyer- of saaggeluide,” het past. Chris Mattheus, wat al vir agt jaar met bye boer, gesê. Hy het die byekas vir die Fouries kom verwyder. “Dit was opvallend dat die byekas nie vol was nie en daar dus nie ‘n gebrek aan spasie was nie en dat die honde ook nie aan die kas kon gestamp het nie. Vermoedelik kon ‘n ander swerm bye naby die honde verbygetrek het. Bye wat besig is met die afswermproses raak soms ook baie aggressief. Ons was egter nie daar om te sien of dit dalk die bye in die kas en of dit ‘n swerm wat verbygegaan het, was wat hulle gesteek het nie,” het Mattheus gesê. Hy het verduidelik dat die rede waarom mense gewoonlik kaste in hul erwe sit, is om bye wat uit ‘n dak verwyder is, aan te moedig om in die kas te swerm.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines