ADVERTISEMENT:

 

Naamsverandering was "'n fout" sê ABSA

 

News  Date: 07 March 2003

 

LOUIS TRICHARDT – Die nasionale mediadiens van ABSA Bank het vandeesweek amptelik verskoning gevra vir enige verwarring wat geskep is rondom die moontlike naamsverandering van ABSA se Louis Trichardt-tak.

In 'n amptelike verklaring herbevestig ABSA dat die tak se huidige naam, ABSA Louis Trichardt, steeds onveranderd is.

Luidens die verklaring is die verkeerde taknaam op etlike finansiële state en tjekboeke gedruk. Die fout is intussen herstel, lui die verklaring.

ABSA het die verklaring uitgereik, nadat ontstoke kliënte skerp gereageer het op 'n mededeling dat ABSA oënskynlik besig is om kant te kies in die hoogs emosionele voortgesette stryd rondom die plaaslike munisipale raad se omstrede pogings om die dorp se naam eensydig te laat verander.

In die verklaring sê ABSA hy is verkeerdelik ingelig dat 'n nuwe naam vir Louis Trichardt reeds in die Staatskoerant gepubliseer is. Die verklaring meld nie die bron van die foutiewe inligting nie.

Die volledige verklaring lui: "Absa vra om verskoning vir enige verwarring wat geskep is rondom die moontlike naamsverandering van die ABSA Louis Trichardt-tak. ABSA is 'n a-politiese finansiële instelling wat streng binne die reg van die Suid-Afrikaanse grondwet optree.

"Absa was verkeerdelik ingelig dat 'n nuwe naam vir Louis Trichardt reeds in die staatskoerant gepubliseer is en het dienooreenkomstig intern gekommunikeer. Die verkeerde taknaam was op etlike finansiële state en tjekboeke gedruk. Die fout is intussen herstel.

"Die tak se huidige naam – Absa Louis Trichardt – is steeds geldig en die status quo sal gehandhaaf word tot amptelik deur die staatskoerant opdrag gegee word om dit te verander."

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines