ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

CoAL meen Vele-myn kan eers in 2016 open

 

News  Date: 10 October 2014

 

Die mynmaatskappy CoAL of Africa Limited (CoAL) het in hul nuutste jaarverslag aangekondig dat die heropening van hulle Vele-myn aangeskuif is tot en met 2016.

Alhoewel die nuus ‘n terugslag is vir CoAL, wat tot onlangs op die rand van bankrotskap was, hou plaaslike anti-mynorganisasies duimvas dat Vele nooit weer sal oopmaak nie. Bedrywighede by Vele, sowat 48 km wes van Musina, aangrensend tot die Mapungubwe Wêreld Erfenisterrein, is vroeg in 2013 gestop as gevolg van swaar reënneerslae. Daarna het herstelwerk begin, asook opgraderings, sodat die myn ‘n groter kapasiteit steenkoolvrag kan verwerk. Na verwagting sou die myn dan vroeg in Januarie 2015 weer in werking kom.

Volgens die uitvoerende hoof van CoAL, mnr. David Brown, moes daar egter nóg verstellings gedoen word aan Vele se steenkoolaanleg. Die nuwe aanleg sal nou net twee produkte, naamlik hitte en semi-sagte kookssteenkool, lewer en nie meer drie soos in die verlede nie. Volgens Brown bespaar dié besluit die maatskappy ongeveer $18 miljoen.

Dit is in lyn met ‘n nuwe strategie wat Brown aangekondig het om geld te spaar sedert hy aan die stuur van sake gekom het. Die myn het in hul 2013 mid-jaarverslag erken dat hulle drasties besig is om kostes te sny om uit hul finansiële verknorsing te kom. Dit het, onder andere, behels ‘n vermindering van werknemers en die verkoop van ander myne.

Die hervatting van produksie by Vele is dus van kritieke belang vir die maatskappy om weer ‘n inkomste te genereer. Na verwagting sal die Vele-myn 1.2 miljoen ton steenkool lewer as ‘n bydrae tot CoAL se korttermyn mikpunt van 6.7 miljoen ton per jaar. Die oorblywende verskil steenkool, sê Brown, sal verhaal word van CoAL se Makhado-projek. Hierdie projek se verskeie mynregtelisensies is egter nog in die verskillende stadiums van registrasie, waarteen anti-mynorganisasies in die streek tans appelleer.

 

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines