ADVERTISEMENT:

 

‘n Plaaslike regsgeleerde, adv. Gideon Joubert van Univen, is genooi om as spreker op te tree  by die International Society of Family Law (ISFL) se driejaarlikse wêreldkonferensie wat vanjaar van 6 tot 9 Augustus in Brasilië aangebied is. Dit volg nadat Joubert die gesogte toekenning ontvang het as die beste dosent in die regsfakulteit. Hier is Joubert by die bekende Christ the Redeemer standbeeld in Rio de Janeiro. Foto verskaf.

Gesin bly meer belangrik in Afrika as res van die wêreld

 

News  Date: 10 October 2014

 

Vir diegene wat gesonde gesinne as die kern vir ‘n gesonde samelewing sien, is dit tragies dat meer as 50% van kinders in die wêreld nie meer as deel van ‘n gesin gebore word nie.

Hierdie en ander feite was stof tot nadenke vir advokaat Gideon Joubert van Makhado (Louis Trichardt) wat genooi is om as spreker op te tree  by die International Society of Family Law (ISFL) se driejaarlikse wêreldkonferensie wat vanjaar van 6 tot 9 Augustus aangebied is by die federale hof in Recife, Brasilië. Joubert is senior lektor in privaatreg by Univen se regsfakulteit en ook ‘n toegewyde gesinsman en vader van vyf kinders wat deur hom en Mariza met vreugde grootgemaak word.

Netelige sake is deur verskillende sprekers by dié internasionale gesinsreg konferensie aangeroer. Wetgewing moet geskep word rondom sake soos internasionale surrogaatmoederskap ooreenkomste, kunsmatige inseminasie, aanneming deur dieselfde-geslag pare en internasionale aanneming, wat weer probleme ten opsigte van kinderhandel kan skep.

“Moderne menseregte se fokus is op die individu en nie op die medemens nie, met die gevolg dat die individu net vir homself leef. In ‘n sekere sin ondergrawe die moderne menseregte gesinswaardes waar ‘n gesin uit ‘n pa, ma en kinders bestaan. Afrika is die enigste kontinent waar die tradisionele siening van die gesin (met ‘n pa en ma van verskillende geslagte) in die regstelsel geld. Suid-Afrika is die enigste uitsondering op die kontinent,” het Joubert gesê.

Joubert se referaat het gehandel oor kultuur en tradisie in familiereg en het die moraliteit van menseregte ontwikkelings in die Suid-Afrikaanse familiereg ondersoek.

“Die eerstewêreldlande kritiseer Afrika vir hulle sogenaamde eng siening van familie en gesinslewe, maar Afrika is die enigste kontinent waar die huwelik sy waarde behou. Hoewel Afrika gekritiseer word, gee hulle nie in vir die Westerse druk vir dieselfde-geslag huwelike nie,”  het Joubert gesê. Hy het bygevoeg dat dit ironies is dat Afrika, wat so lank deur kolonisasie onderdruk was, nou weer onderdrukking ervaar.  Hierdie keer word Afrika met die eerstewêreld se moderne menseregte afgedreig en daar word van Afrika verwag om hulle kulturele waardes prys te gee. “Meer as 70% van Afrika se state aanvaar nie homoseksualiteit nie. Baie Afrika staatsleiers het openbare uitsprake gemaak dat homoseksualiteit ‘n ‘nie-Afrika’ praktyk is,” het Joubert gesê.

Hoe sterk Afrika voel oor homoseksualiteit het na vore gekom in skokinsidente vanjaar in Nigerië,  Uganda  en ander Afrikalande. In Nigerië is vanjaar ‘n wet onderteken wat tronkstraf vir tot 14 jaar kan gee vir dieselfde-geslag huwelike wat in Nigerië voltrek word. In Uganda is beide homoseksualiteit en dieselfde-geslag huwelike gekriminaliseer.

“Die Afrika-gedagtegang aanvaar dat alle mense heteroseksueel is en aanvaar in beginsel nie homoseksualiteit of die uitdrukking van ‘n alternatiewe seksuele oriëntasie nie. Hulle aanvaar die beginsel van gemeenskap met heteroseksuele huwelike. In Suid-Afrika het ‘n paar hofsake die wetgewing rondom die huwelik verander. Die minderheid het die wetgewing vir die meerderheid bepaal,” het Joubert gesê.

By die konferensie in Brasilië het Joubert vir prof. Lyn Wardle van die VSA ontmoet en hy het ingestem om vanjaar na Suid-Afrika te kom om Joubert se navorsing vir sy doktorsgraad te bespreek.

Joubert het die reis na Brasilië onderneem, nadat hy die gesogte toekenning ontvang het as die beste dosent in die regsfakulteit. Hy het R500 000 ontvang wat op akademiese konferensies en navorsing gespandeer moet word. Hy is hierdie week by die Universiteit van Stellenbosch vir die Family Law Colloquium.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines