ADVERTISEMENT:

 

Sakekamer kyk terug na bedrywige jaar

 

News  Date: 07 March 2003

 

LOUIS TRICHARDT – Die Soutpansberg Sakekamer het 'n uiters suksesvolle jaar beleef en verskeie projekte is met groot sukses afgehandel.

Tydens die Sakekamer se Algemene Jaarvergadering wat Maandagaand gehou is, het die uittredende voorsitter, mnr. Francois Pretorius verslag gedoen oor die aktiwiteite die afgelope jaar. Hy het verwys na projekte soos die Entrepreneursweek wat weereens 'n hoogtepunt was. Mnr. Pretorius het ook na etlike jare van diens as voorsitter bedank. Hy en sy familie het reeds na Polokwane verhuis vroeër vanjaar. Hy het egter sy volgehoue steun aan die Sakekamer beloof en hom ook bereid verklaar om met projekte soos die Entrepreneursweek te help.

In die finansiële verslag het die tesourier, mnr. John le Cornu gesê die jaar word op 'n baie positiewe noot afgesluit. Die Sakekamer het nie net daarin kon slaag om 'n oortrokke fasiliteit die afgelope jaar af te los nie, maar spog ook met 'n stewige saldo aan die einde van die termyn. Selfs die jaarlikse dinee, wat gewoonlik 'n groot uitgawe vir die Sakekamer is, het verlede jaar vir 'n inkomste gesorg. Hierbenewens het die Sakekamer 'n aantal toerismevideos beskikbaar wat nog verkoop moet word.

Mnr. André Naudé het kortliks verslag gedoen oor waar die proses om Louis Trichardt se naam te verander, tans staan. Die Sakekamer is een van die organisasies wat skerp te velde getrek het teen die beoogde naamsverandering en op verskeie vlakke beswaar daarteen aangeteken het.

Volgens mnr. Naudé is die proses vir eers terugverwys, in afwagting op verdere inligting. Meer as 5 000 mense het reeds petisielyste geteken teen die beoogde naamsverandering. Die Sjangaan-gemeenskap het op hul beurt ook die naamsveranderingsproses veroordeel. Mnr. Naudé het egter beklemtoon dat die sukses van die protesaksie tot 'n groot mate afhang van die steun van die plaaslike inwoners.

Nog 'n saak wat die Soutpansberg Sakekamer aangeroer het die afgelope paar maande, is die verbod op swaar motorvoertuie om alternatiewe roetes om die berg te gebruik. Skrywes is gerig aan die provinsiale Departement van Vervoer. Dié skrywe aan die LUR, dr. Farisani het egter slegs 'n politieke aanval uitgelok. Die saak geniet egter steeds aandag.

Mev. Inga Gilfillan het terugvoer gegee oor die polemiek rondom die beoogde ontwikkeling in die Boompark. Die Sakekamer het gevoel dié ontwikkeling is nie wenslik nie, suiwer oor die terrein waarop dit beplan word. Volgens mev. Gilfillan beskik die Boompark oor 'n unieke biodiversiteit wat onvervangbaar is. Beswaar is gemaak teen die feit dat daar geen behoeftebepaling gedoen is nie en min inligting beskikbaar gestel is oor die ontwikkelaar en tipe ontwikkeling wat mag plaasvind.

Nege nuwe bestuurslede is tydens die Sakekamer se jaarvergadering verkies. Dié lede sal binne die volgende paar weke uit hul geledere 'n voorsitter en tesourier verkies. Die bestuurslede is dr. Suwil Rudolph, mev. Inga Gilfillan, mev. Jana Smit, mnr. Paul Herman, mnr. Jock Veldthuizen, mnr. Iain Purdon, mnr. Eddie Schlesinger, mnr. Lucas Vermeulen en mnr. Johan Laubser. Die sekretaresse is mev. Edna Wolmarans.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines