ADVERTISEMENT:

 

Viviers skik saak teen polisie buite hof

 

News  Date: 07 March 2003

 

LOUIS TRICHARDT – Die siviele aksie wat deur mnr. Piet Viviers, 'n voormalige boer van die omgewing, teen die Minister van Veiligheid en Sekuriteit geloods is na 'n opspraakwekkende "onwettige" arrestasie saak in Januarie 2001, is Maandag buite die hof geskik.

Mnr. Viviers het 'n siviele eis ingedien teen die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, nadat hy op 8 Januarie, 2001 deur 'n groep van 23 polisiebeamptes in 15 polisievoertuie hardhandig op sy plaas Uitkyk oorrompel is en aan sy arms en bene na 'n vangwa gesleep is op 'n klag van veediefstal. Dit was die polisie se optrede, nadat hy sowat 40 rondloper beeste vanuit die omliggende Zamekomste-gemeenskap op sy plaas geskut het. Mnr. Viviers was skutmeester in daardie stadium.

Die hardhandige wyse waarop mnr. Viviers behandel is, die feit dat die polisie geen gronde gehad het vir sy arrestasie nie en die polisie se skynbare rassistiese optrede, het tot gevolg gehad dat die saak na die Direkteur van Openbare Vervolgings verwys is vir beslissing.

Sowat 'n maand na die voorval het Senior Advokaat P.H.H. Fick van die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolgings ter beslissing gesê dat mnr. Viviers se arrestasie oënskynlik onregmatig was en dat die senior polisie beamptes betrokke by die uitvoer van die arrestasie departementeel aangekla moet word. Hy het gesê dat een van die senior polisiebeamptes, kapt. Ailwei Mashavhanamadi in weerwil van 'n mededeling deur die Aanklaer dat hy geen gronde het om Viviers te arresteer nie, steeds die arrestasie uitgevoer het. Adv. Fick het ook genoem dat dit moeilik is om die afleiding te vermy dat die SAPD kant gekies het teen 'n blanke lid van die publiek ten gunste van swart persone wat na hulle mening verontreg is. Hy het gesê dat die voorval vanweë die polisie se optrede 'n rassistiese kleur verkry het wat die SAPD in 'n slegte lig gestel het.

Na aanleiding van genoemde beslissing het mnr. Viviers 'n siviele eis teen die Minister van Veiligheid en Sekuriteit ingedien. Die saak sou Maandag in die Hooggeregshof in Pretoria aangehoor word, maar die polisie het besluit om voor die tyd die saak met mnr. Viviers te skik.

Volgens mnr. Viviers se regsverteenwoordiger, dr. Suwil Rudolph van Louis Trichardt, het die polisie onderneem om skadevergoeding van R56 000 aan mnr. Viviers te betaal met betrekking tot sy onregmatige arrestasie en aanhouding. Daarbenewens sal 'n verdere R6 000 aan hom betaal word vir koste betreffende die aanvanklike strafsaak teen hom. Die Minister van Veiligheid en Sekuriteit word ook verantwoordelik gehou vir die Hooggeregshofkoste ter bedrae van sowat R35 000. 'n Verdere R9 000 sal ook aan mnr. Viviers se vervreemde vrou, wat die insident gade geslaan het, betaal moet word vir haar vernedering en skok.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines