

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 March 2003
LOUIS TRICHARDT – 'n Belangrike nuwe ontwikkeling in die dorp is die vorming van 'n Voorsitterskomitee, 'n nie-politiese komitee wat alle aangeleenthede van groot gemeenskaplike belang sal aanspreek en welvaartskepping vir alle groepe beoog.
Die voorsitter van elke vereniging, klub, instansie, skool, kerk en organisasie wat in die Makhado Munisipaliteit se area funksioneer, word gevra om die eerste formele vergadering op 23 April om 19:00 by die Bergwater Hotel by te woon.
Tydens 'n loodsvergadering op 3 Maart, het mnr. Frans Pretorius gesê dat dit maklik is om na die pen te gryp of te praat, maar dat mense nou moet "doen". 'n Voorsitterskomitee het die voordeel dat daar deur middel van die voorsitters baie vinnig met feitlik al die mense in die Makhado Munisipaliteit area kontak gemaak kan word. Die opinie van die belangegroepe kan binne 'n kort tyd verkry word en op 'n verantwoordelike wyse gestel word.
Voorlopige doelwitte is gestel deur mnr. André Naudé, maar hy sê dat dit verander en geprioritiseer kan word tydens die vergadering van 23 April. Dié doelwitte sluit in die aanspreek van sake soos tolpaaie, die swaar verkeer op die N1 roete oor die berg, die naamsverandering van die dorp, die boompark, die estetiese voorkoms van die dorp, besoedeling, grondbelasting, landbou, toerisme en bemarking van die omgewing asook die gemeenskaplike jaarbeplanning van verskillende instansies.
'n Belangrike saak is die kundige en deursigtige bestuur van inkomstes en uitgawes van die Makhado Munisipaliteit. Dit sluit in die monitering van inkomste en uitgawes van die munisipaliteit en begroting, die kundige oplê van belastings en behoorlike risiko bestuur. Die Voorsitterskomitee gaan hom beywer daarvoor dat alle moontlike mense wat met belastinggeld werk, oor die nodige kundigheid en opleiding beskik. Daar sal voorgestel word dat 'n kundigheidsoudit sowel as 'n produktiwiteitsmodule daar gestel word om die beste waarde vir die belastingbetaler se geld te verseker. Indien daar 'n vermoede bestaan oor enige vorm van korrupsie, sal dit deur die Voorsitterskomitee aan die Ouditeur-Generaal en die Openbare Beskermer gerapporteer word. Konfrontasie is beslis nie die doel van die Voorsitterskomitee nie en sal net aangewend word indien nodig.
Die doel gaan nie net wees om die munisipaliteit, raadslede en amptenare te monitor nie, maar ook om besigheid en geleenthede deur korporatiewe samewerking te bevorder. Goeie bestuur en welvaart vir die hele omgewing moet bevorder op alle terreine van die samelewing. Daar sal ook gewaak word teen die aanwending van mense van buite ten koste van plaaslike kundigheid, professionele mense en kontrakteurs binne die Makhado Munisipaliteit area.
Nog 'n doelwit is om te waak teen diskriminasie teen enige kulturele groep. Die Voorsitterskomitee wil ook die goeie samewerking wat reeds tussen verskillende kultuurgroepe bestaan, verder uitbrei. Hulle wil nie inmeng met die werksaamhede van die verskillende organisasies nie, maar wil op 'n konsensus basis toesien dat welvaart in die streek geskep word tot voordeel van almal.

ADVERTISEMENT:
