ADVERTISEMENT:

 

Boere dreig om reg in eie hande te neem

 

News  Date: 21 February 2003

 

LOUIS TRICHARDT – Boere en grondeienaars het die afgelope week gedreig om 'n de facto regering tot stand te bring, sou die Staat voortgaan om hul pleidooi tot die handhawing van wet en orde in die streek en provinsie te ignoreer.

Die boodskap het duidelik na vore getree tydens 'n massa-vergadering van boere op Vrydag (14de).

In sy openingsrede het mnr. Gert van Zyl (voorsitter) sy spyt uitgespreek oor die feit dat, behalwe vir die Departement van Omgewingsake, geen ander staatsdepartemente as belangrike rolspelers, naamlik die Departement van Veiligheid en Sekuriteit, Departement van Justisie en die Departement van Landbou, die moeite gedoen het om op te daag vir die vergadering nie. Dit ten spyte van herhaaldelike uitnodigings en geregistreerde versoeke op nasionale vlak. Mnr. Van Zyl het gesê dat dit duidelik is dat die betrokke departemente óf te bang is om met boere te praat oor die probleem óf totaal onbevoeg is om hul taak te verrig. Die betrokke departemente se afwesigheid is ook voorgehou as tasbare bewys dat daar geen verbintenis van die Staat is om na boere en hul probleme te luister nie.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens is veral uitgesonder as die grootste oorsaak van die wettelose toestand. Alhoewel daar persone was wat gevoel het dat daar wel lede is wat probeer om wet en orde te handhaaf, was die meerderheid boere dit eens dat die oorgrote meerderheid van die polisiediens totaal apaties staan ten opsigte van hul konstitusionele verpligting. Mnr. Gideon Meiring van die TLU SA het by mnr. Van Zyl aangesluit en gesê dat hulle die afgelope paar maande alle moontlike kanale gevolg het om die probleem onder die Staat se aandag te bring. Dit het egter geen sigbare resultate tot gevolg gehad nie. Hy het die polisiediens skerp veroordeel en gesê dat die Staat weliswaar 'n situasie geskep het waar boere se lewens en hul eiendom voëlvry verklaar is. Sou dié situasie voortduur, het mnr. Meiring gesê, sal alle samewerking met die owerhede opgeskort word.

Mnr. Meiring het ook gereageer op die Staat se beoogde afskaffing van die kommandostelsel en gesê dat dit verdere vet is op 'n vuur om eensydig probleme te begin oplos. Hy het bygevoeg dat hulle geen alternatief sal hê nie as om wet en orde in hul eie hande te neem, sou die kommandostelsel afgeskaf word en die polisiediens voortgaan om hul pligte te verontagsaam.

Nog 'n tekortkoming ten opsigte van wetstoepassing wat tydens die vergadering geopper is, was die kwessie rondom strawwe. Met betrekking tot strawwe vir onwettige jagters het die vergadering gehoor dat meeste oortreders gevangenisstraf verkies bo boetes. Die rede wat hiervoor aangevoer is, is die feit dat oortreders selde vonnisse van meer as drie maande opgelê word. Aangesien gevangenisse reeds oorvol is, word oortreders letterlik by die deur weggewys en beland hul binne dae weer op straat. In dié verband het boere 'n ernstige beroep gedoen op die Departement van Justisie om oortreders swaarder vonnisse op te lê.

In antwoord op bogenoemde het me. Hilke van Rensburg, 'n plaaslike staatsaanklaer wat saam met mnr. Sakkie Scheepers (hooflanddros) die vergadering op eie inisiatief bygewoon het, gesê dat sy haar beste doen om vonnisse te kry, maar dat boere self 'n groter rol moet begin speel om 'n skuldigbevinding te verseker. Sy het boere versoek om seker te maak dat genoegsame bewysstukke ingesamel word, selfs al beteken dit dat boere die polisie moet herinner oor wat hul taak en werk is. Me. Van Rensburg het ook boere versoek om hofsake by te woon en te vra vir verswarende omstandighede.

Op 'n vraag oor wat boere in die huidige situasie te doen staan, het mnr. Meiring voorgestel dat daar 'n laaste skrywe aan President Thabo Mbeki gestuur moet word, waarin hulle probleme uiteengesit word. In dié skrywe sal mnr. Mbeki persoonlik versoek word om voor 11 Maart antwoorde te verskaf oor wat hy gaan doen om weer respek op grondvlak te kweek vir eiendomsreg, wet en orde. Hy sal ook versoek word om antwoorde te verskaf oor waarom nie een van die uitgenooide staatsdepartemente die vergadering bygewoon het nie. Sou mnr. Mbeki nie reageer nie, het mnr. Meiring gesê, sal daar oorgegaan moet word na plan B. Kortliks behels dié plan dat lede en inwoners gemobiliseer sal word om self die probleem aan te spreek. Mnr. Meiring het gesê dat dit tyd geword het om daadwerklik te begin optree, met verwysing na 'n de facto regering, om te verhoed dat Suid-Afrika in 'n tweede Zimbabwe ontaard.

Vrydag se vergadering is belê op inisiatief van die Bankop Aksie Komitee in 'n poging om die wettelose toestande op plase in die Bandelierkop-omgewing aan te spreek, veral met betrekking tot onwettige jag- en strooptogte. Dit is egter beklemtoon dat die probleem nie net tot dié area beperk is nie, maar ook 'n algemene tendens is op plase regoor die streek en provinsie.

Die vergadering het wye reaksie ontlok en is ook bygewoon deur die topstruktuur van die Soutpansberg Distrik Landbou-unie en verteenwoordigers van die TLU SA. 'n Kameraspan van die populêre natuurleweprogram, 50/50 was ook teenwoordig om beeldmateriaal bymekaar te maak vir 'n dokumentêr oor onwettige jag- en strooptogte in die streek. Dit sal ook as opvolg dien vir die hoogs gepubliseerde dokumentêr oor die probleem van onwettige jagters in Zimbabwe 'n paar weke gelede. 'n Positiewe aspek wat tydens die vergadering na vore getree het, was die onderneming van boere om te begin saam staan en hul verskille opsy te sit. So het die Bankop Aksie Komitee dan ook aan die TLU SA 'n mandaat gegee om ook namens hulle op te tree. Meer verblydend was egter boere se entoesiasme om oor die kleurgrense met gemeenskappe om hul plase te begin saamwerk. Gemeenskapsverteenwoordigers van die Vleifontein-omgewing was onder die swart rolspelers wat op kort kennisgewing die moeite gedoen het om die vergadering by te woon. Hulle het aan boere verduidelik dat hulle nie plase, vee of wild besit nie, maar dat hulle begrip het vir boere en hul probleme. Hulle het ook boere uitgenooi om op gereelde grondslag met hulle te skakel om moontlike probleme uit te sorteer.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines