

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 February 2003
LOUIS TRICHARDT – Thomas Muleya, die man wat ondermeer verantwoordelik was vir die moord op mnr. Hannes Beeton (49) en mev. Gerty Rupping (46) in 2001, is verlede Donderdag in die rondgaande hof tot 169 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Die 26-jarige Muleya, met die straatnaam Lucky 120, is skuldig bevind op vier klagte van moord, drie klagte van roof, een klag van poging tot moord, een klag van die onwettige besit van 'n vuurwapen en een klag van die onwettige besit van ammunisie. Sy straatnaam is aan hom gegee, omdat hy klaarblyklik baie vinnig kan hardloop, veral wanneer hy, 'n selferkende Rastafariër, eers 'n bietjie dagga gerook het.
Vir die moord op mnr. Beeton en mev. Rupping is Muleya twee lewenslange vonnisse opgelê. Muleya het op die aand van 19 November 2001 vir mnr. Beeton summier in die kop geskiet, terwyl hy op sy bed gelê het by sy woning in Reitzstraat. Muleya het van buite die huis deur die kamervenster geskiet. Hy het daarna in die rigting van Jeppestraat gehardloop, waar hy by mev. Rupping se huis ingestorm het. Haar man, Dick, en twee seuns het geslaap. Muleya het vir mev. Rupping op kort afstand in die bors geskiet. Mnr. Rupping het die rumoer gehoor en kort daarna het 'n skietery tussen hom en Muleya ontstaan. Muleya het egter op die vlug geslaan deur 'n oop voordeur. Mev. Rupping is op die toneel dood, terwyl mnr. Beeton die volgende dag oorlede is.
Muleya is ook skuldig bevind vir die moord op 'n sekuriteitswag by die plaaslike stortingsterrein, mnr. Alfred Mudau, 'n paar weke voor die moord op mnr. Beeton en mev. Rupping. Mnr. Mudau is eers met 'n skroewedraaier doodgesteek, waarna hy van sowat R75 beroof is.
Op die klag van poging tot moord, wat verband hou met Muleya se poging om ook mev. Rupping se man te skiet, is Muleya tot vyftien jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy is 'n verdere vyftien jaar vonnis opgelê vir die moord op me. Magret Fhetani (42) in November 2000. Me. Fhetani se erg ontbinde lyk is langs die spoorlyn in Kortstraat gevind. Haar geslagsdele was ondermeer uitgesny.
Vir die roof op mnr. Mudau, met verswarende omstandighede, is Muleya tot twintig jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy is ook tot twintig jaar gevangenisstraf gevonnis vir die roof op me. Fhetani. Buiten hiervoor het hy 'n addisionele vonnis van twintig jaar gevangenisstraf gekry vir die roof op me. Maggie Sekhwama en Abraham Ndou by die munisipale kantore op 13 Januarie 2001. Tydens dié voorval is 'n vuurwapen, selfoon en kontant ondermeer gesteel.
Tydens vonnisoplegging het die voorsittende beampte, Regter Eben Jordaan van die Hooggeregshof in Pretoria, aanbeveel dat Muleya eers oor veertig jaar in aanmerking mag kom vir parool.
Muleya was sedert sy inhegtenisneming in aanhouding. Hy is heel toevallig deur 'n lid van die plaaslike Raad, mnr. Jimmy Moodie, aangekeer, toe hy gepoog het om koperdraad vanuit 'n munisipale stoor te steel. 'n Hewige worsteling het tussen hom en mnr. Moodie ontstaan. Muleya het hom egter lelik misreken, aangesien mnr. Moodie 'n voormalige nasionale liggewig bokskampioen is. Kollegas van mnr. Moodie het hom later te hulp gesnel en gehelp om die vuisvoos Muleya te arresteer. Mnr. Moodie en sy kollegas het eers later uitgevind dat Muleya 'n moordverdagte is en as uiters gevaarlik beskou moet word.

ADVERTISEMENT:
