

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 July 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Mev. Mary Hattingh, van die plaas Northwich, het verskeie toekennings ontvang in die Female Farmer of the Year 2004-kompetisie.
Mev. Hattingh, ‘n tingerige dame met die voorkoms van ‘n model, het soveel ysters in die vuur op haar plaas dat dit ander na hul asems laat snak net by die aanhoor daarvan. Sy behartig onder andere ‘n mini-groente hidroponiese boerdery, ‘n varkboerdery, ‘n bakkery, ‘n curiostalletjie en winkel, verskeie gastehuise, ‘n jagkamp, spysienering, boerbokke en die bottel van water.
Mev. Hattingh (56) het die eerste plek in die kategorie vir die uitvoermark in die Makhado Munisipaliteit verwerf, asook die derde plek in dieselfde kategorie in die Vhembe distrik. Die seremonie vir die toekennings van die Female Farmer of the Year 2004 in die Vhembe-distrik is op 15 Julie by die Thohoyandou Binnenshuise Sportsentrum gehou. Die Departement van Landbou het vir mev. Hattingh ‘n geraamde eresertifikaat oorhandig vir haar bydrae tot ekonomiese groei en die ontwikkeling van landbou.
Hoe het dit alles begin?
“Ek het begin met ‘n groentetuintjie in 1997. Ek het self in die stalletjie ook gewerk. Soveel mense het my kom soebat vir werk dat ek hulle jammer gekry het en hulle in diens geneem het. Daardie vrouens werk nog steeds vir my,” vertel Mary.
Vandag het sy twee hektaar onder nette en kweek sy die babagroentes, soos klein pampoentjies, pepers en langlewe tamaties. Elke plant word in sy eie sakkie geplant en kry uurlikse voeding. Mary het al uitgevoer na Londen en sy bemark ook vir Kaapstad en Johannesburg. Haar gedroogde tamaties was in Duitsland in groot aanvraag. Mary beplan nou om haar lande skoon te maak en te steriliseer en dan organies, sonder gifstowwe, te boer.
Haar man Fred, wat sy eie ingenieurswerke in Louis Trichardt bedryf, vertel dat hulle oor twee weke nuwe gastehuise as oornagfasiliteite teenaan die N1 gaan open. Mary bedryf die boerdery en al die projekte op die plaas, geleë sowat 20 km op die N1, noord van Louis Trichardt.
“Jy moet maar net werk,” sê Mary.
“Vroeg opstaan en laat gaan slaap,” voeg Fred by.
Op ‘n Sondagoggend sal Mary dikwels vieruur opstaan om die etes vir die gaste voor te berei sodat sy kan kerk toe gaan. Sy is ook ‘n diaken in die kerk.
“Daar is nie so iets soos ek kan nie, dit is ek wil of ek wil nie,” sê hierdie energieke boervrou. Soggens maak sy eers ontbyt vir die gaste, daarna maak sy haar draaie by die landerye, die stalletjie en die bakkery. Net soos haar plantjies, ken haar 60 varke ook haar stem. Sy spuit self haar bokke in en huiwer nie om alleen die varkkos op die bakkie te laai nie.
“Ek hardloop baie rond. Met meer hande en hulpmiddels sal ek nog meer kan doen. Maar ek haat luiheid. Met ‘n gewillige werker met die regte gesindheid kan ek baie doen, “ sê Mary.
Mary het 25 werknemers in haar diens. Sommige werk in die gastehuise, ander in die stalletjie, die bakkery, as gidse en drywers, terwyl 11 werknemers in die lande werk. Mary werk saam met haar werknemers en het in 10 jaar nooit verlof geneem nie. Haar kinders het haar onlangs gedwing om vakansie te neem, veral omdat ‘n gesondheidstoestand haar in die hospitaal laat beland het. Geen fisieke toestand kry hierdie flukse, positiewe vrou egter onder nie.
“By die seremonie het ‘n raadslid van die Makhado Munisipaliteit vir my verduidelik wat die mense in Venda sê,” sê Mary. Dit het haar opgeval hoeveel hulpmiddels die ander vroue boere van die departement ontvang. Hierdie uitmuntende vroueboer voel dat sy met staatshulp soveel meer sal kan doen en soveel meer werk sal kan skep.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
