

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 February 2003
LOUIS TRICHARDT – Telefoonbedrieërs het weer Saterdag (8ste) op 'n telefoonlyn ingesny, maar hierdie keer het hulle die verkeerde lyn gebruik en hulle is so amper-amper vasgetrek. Die voorval het weereens kommer laat ontstaan oor die polisie se samewerking.
Mnr. Hugo Potgieter, 'n tegniese sekuriteitsbeampte wat gewoonlik Telkomkabels beveilig, het Saterdag om ongeveer 14:45 snuf in die neus gekry toe sy telefoon buite werking was. Hy bly op 'n plaas sowat vyf kilometer uit op die Vivo-pad.
"Daar was 'n snaakse steuring op die lyn. Ek het geweet dat die diewe nou op die lyn praat en het dadelik na die mangat by die westelike uitgang van die dorp gejaag. Ek het op 'n Indiër- en 'n swartman afgekom, wat toe in die ruie bosse ingehardloop het. As die polisie net flink gereageer het, kon ons hulle vasgetrek het," sê mnr. Potgieter. Hy sê dat Telkom se mense spoedig opgedaag het.
Die diewe het klaarblyklik kabels binne in die mangat gekoppel. Mnr. Potgieter sê dat hy kabels herken het as Telkomkabels. Die kabels is dan vir sowat dertig meter afgerol sodat die diewe weg van die mangat hulle oproepe kan maak. Die diewe het hulle mes en kabels op die toneel agtergelaat.
Dié oproepdiefstalle strook met die klagte wat van inwoners van plase en hoewes ontvang is, veral van by Rondebosch en op plase op die Vivo-pad. Almal het gekla oor buitensporige hoë rekenings met internasionale oproepe en onbekende selfoonoproepe daarop. Volgens 'n Telkomverklaring kom die bedrieërs in op 'n kliënt se telefoonlyn en verkoop oproepe na internasionale bestemmings teen 'n fraksie van die normale prys.
Mnr Potgieter het self in Desember so 'n hoë rekening ontvang, nadat sy telefoon op 7 Desember dieselfde steurings gehad het as op 8 Februarie. Dus het hy Saterdag besef wat aan die gang is.
"In Pretoria was ons baie suksesvol met die vangs van kabeldiewe, want daar het elke mangat 'n alarm gehad. Dit is my werk om op Telkom se alarms te reageer, maar hier in die Noorde sien ek nie alarms by die mangate nie," sê Potgieter.
Telkom se Senior Bestuurder: Korporatiewe Kommunikasie, me. Ingrid Krige, het vandeesweek gesê dat sy navraag sal doen oor die kwessie van alarms by mangate in die Limpopo provinsie. Van hulle kant is Telkom gedurig besig om probleme van die aard te probeer bekamp. Verder het sy Telkomkliënte wat slagoffers van bedrog is, herinner om dit aan te meld by Telkom se Misdaad Stopnommer 0860 124 000.
Wat mnr. Potgieter egter die meeste ontstel het, is die feit dat hy voel dat die diewe gevang kon gewees het as die polisie net vinnig opgedaag het. Nadat hy 'n uur en 'n half op die toneel was, het hy die polisie die derde keer geskakel. Daar is aan hom gesê dat daar reeds drie voertuie uitgestuur is. "Geen polisievoertuig het by ons kom stop en navraag doen nie. Een polisievoertuig het wel daar verbygery en toe ons wys dat hy moet stop, het hy net aanhou ry," vertel mnr. Potgieter.
Hugo was ook betrokke by die voorval op 23 Januarie waar mev. Markie Els van die plaas Rondebosch aangeval en misgeskiet is. Hy was deel van die groep wat as lede van die publiek die aanvaller se spoor gesny het. Ook in hierdie geval moes hulle ure wag vir die polisie om op te dag.
Na hierdie voorvalle is Hugo, wat tien jaar in die polisiediens was, nou vasbeslote om 'n reaksiemag op die been te bring bestaande uit vrywilligers. Mnr. Potgieter beplan om die saak van 'n reaksiemag te opper tydens die massa-byeenkoms van boere en hoewebewoners op Vrydag (14de) by TJ Safari's se lapa.

ADVERTISEMENT:
