

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 February 2003
LOUIS TRICHARDT - Samesprekings is vandeesweek op hoë vlak voortgesit oor die omstrede verpligte gebruik van die N1 deur swaar voertuie.
'n Senior verteenwoordiger van die Provinsiale Verkeersdepartement, mnr. Allan Matsila, het Maandag 'n groep belanghebbendes op Louis Trichardt ontmoet om die omstrede aangeleentheid onder die loep te neem.
Die vergadering het gevolg op 'n insident verlede week, toe verskeie hooggeplaaste verteenwoordigers van die polisie, weermag en verkeersdepartement hulle gehaas het na die toneel waar 'n swaar voertuig die verkeer vir etlike ure lank op die bergpas noord van die dorp ontwrig het.
Mnr. Matsila het kennis geneem van rolspelers se ferm standpunt dat die veiligheid van mense lewens voorrang behoort te geniet bo enige ander oorweging. Die algemene standpunt van die vergadering was dat die omstrede besluit, wat geneem en afgedwing is sonder om enige een van die rolspelers vooraf te raadpleeg of in te lig, uiters ernstige implikasies vir die veiligheid van padgebruikers en die inwoners van die dorp het, gevaarlike opeenhopings veroorsaak en 'n kunsmatige teelaarde vir frustrasie en gevaarlike padwoede skep.
Die vergadering het ook kennis geneem van die feit dat verkeersbeamptes boere nog steeds lastig val wat vir hul normale bedryfsvervoer van die "verbode" alternatiewe roetes moet gebruik maak. Op 'n vroeëre vergadering in Polokwane het die hoof uitvoerende beampte van die provinsiale padagentskap onderneem om die misverstande met die verkeersafdeling uit die weg te ruim. Hy het toe beklemtoon dat die verbod op die gebruik van alternatiewe roetes net op internasionale verkeer van toepassing is.
Mnr. Matsila het na afloop van Maandag se vergadering onderneem om die hele aangeleentheid van die kennisgewingborde waarop swaar voertuie verbied word om van die Dendron, Vivo en Waterpoort alternatiewe roetes gebruik te maak, met die betrokke LUR op te neem en die ernstige kommer oor die veiligheidsaspek oor te dra.
Woensdagoggend het mnr. Matsila by navraag bevestig dat die aangeleentheid op die hoogste provinsiale vlak aangemeld is en aktiewe aandag kry. Hy het dit in die vooruitsig gestel dat 'n finale beslissing oor die moontlike remediëring van die krisis voor die einde van die week aangekondig kan word.
Maandag se vergadering het gevolg op 'n insident waartydens die N1 deur die Soutpansberg vir etlike ure versper was, toe 'n stilstaande swaar vragmotor in 'n skerp draai digby Ingwe Ranch die verkeer aan weerskante laat opdam het.
Die besluit om alle swaar verkeer vanaf 1 Desember oor die bergpas te dwing, terwyl padbouwerk daar aan die gang is, word allerweë as ontydig en onverantwoordelik beskou. 'n Kontrakteur wat besig is met die bouwerk oor die bergpas, het gesê die kunsmatige vermeerdering van swaar voertuigverkeer oor die berg, juis nou terwyl die bouwerk aan die gang is, vertraag die werk in so 'n mate dat dit waarskynlik nie binne die verwagte kontraktyd voltooi sal kan word nie.
Intussen was nog 'n swaar voertuig Maandagnamiddag betrokke in 'n ongeluk suid van die tonnels in die berg. Die swaar voertuig, met 'n vrag hout, het op die skouer van die pad beweeg en omgeslaan, vermoedelik toe die vrag verskuif het. Die voertuig is erg beskadig en die N1 is vir 'n uur lank gesluit, terwyl herwinningswerk aan die gang was. Vir die duur van die sluiting is alle verkeer langs die Witvlag-grondpad roete herlei.

ADVERTISEMENT:
