

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 February 2003
LOUIS TRICHARDT – Nagenoeg 1 000 gevalle van Malaria het gedurende Januarie vanjaar in die noordelike gedeelte van die provinsie voorgekom, ook op dorpe wat buite die normale malaria gevaarsone is.
'n Woordvoerder van die Departement Gesondheid se Malariabeheer-afdeling, mnr. Phillip Kruger, het vandeesweek by navraag gesê hospitale en geneeshere in private praktyk moet kennis neem van die moontlike voorkoms van die gevreesde siekte en pasiënte vir die siekte toets, wanneer hulle met hoë koors en strawwe hoofpyne aanmeld.
Mnr. Kruger sê hoewel daar 'n skielike uitbreking in die eerste twee weke van Januarie voorgekom het, het die getal aanmeldings net so skielik drasties afgeneem gedurende die laaste twee weke van Januarie.
Op Louis Trichardt is twee pasiënte wat met malaria gediagnoseer is, verlede week na Polokwane oorgeplaas. Die een pasiënt was 'n sesjarige meisie van Louis Trichardt, wat pal in die dorp was en in geen stadium 'n gevaargebied besoek het nie. Die ander pasiënt is 'n volwasse man van Levubu wat vermoedelik serebrale malaria opgedoen het en in 'n koma oorgeplaas is na die hospitaal in Polokwane.
Mnr. Kruger sê dit is nie ongewoon vir mense om malaria op te doen in normaalweg "veilige" gebiede nie. Hoewel Louis Trichardt buite die amptelike malaria gevaarsone geleë is, bring die hoë frekwensie van buitelandse deurverkeer mee dat malaria draende muskiete van elders hier kan aanland en die siekte aan mense kan oordra.
Dit is oor die algemeen verstandig om die normale voorkomings maatreëls te tref teen muskietbyte.

ADVERTISEMENT:
