

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 February 2003
MUSINA - 'n Buitengewoon geliefde inwoner van die dorp, Dr. J.P. van Zyl, gemoedelik bekend as Dok, is in die ouderdom van 76 jaar op Nylstroom oorlede. Hy is verlede week vanuit die N.G. Kerk op Nylstroom begrawe.
In 'n huldeblyk het ds. Hennie Kotzé van Musina melding gemaak van dr. Van Zyl se medemenslikheid en eerlike nederigheid. Hy het gesê dr. Van Zyl was 'n besondere mens, wat die hele gemeenskap oor baie jare geraak het met sy leefwyse.
Dr. Van Zyl was op die dorp bekend as 'n persoon wat deurentyd bereid was om enigiemand te help, selfs onder uiters moeilike omstandighede en dikwels sonder om enige vergoeding te verwag, veral oumense en mense sonder mediese fondse.
"Hy sou selfs in die nag in 'n mynskag afklim om iemand te gaan help. Hy was 'n gelowige mens wat sy geloof treffend uitgeleef het. Hy was besonder lief vir die natuur en het 'n passie gehad vir die Sending en 'n besondere belangstelling in die Ou Testament. Hy was vir baie jare hoofouderling van die gemeente in Messina en het die gemeente se belange tot met sy dood op die hart gedra. Op Messina het ons 'n segswyse: 'n Groot Kremetartboom het geval. Hy was waarskynlik die heel grootste," het ds. Kotzé gesê.
Die begrafnisdiens is behartig deur ds. Kobie Breedt van Nylstroom, terwyl 'n vorige predikant van Musina, ds. Albert Horn by die graf opgetree het. Ds. Kotzé het die huldeblyk gelewer.
Dr. Van Zyl word oorleef deur sy vrou Frieda en sy twee kinders, Koos van Zyl en Esmé van der Merwe.

ADVERTISEMENT:
