ADVERTISEMENT:

 

Grafte in plaaslike begraafplaas geskend

 

News  Date: 07 February 2003

 

LOUIS TRICHARDT – 'n Laaste rusplek in vrede in 'n netjiese omgewing word skynbaar nie aan die oorledenes in die Louis Trichardt Begraafplaas gegun nie.

'n Erg geskokte mnr. Pieter Willemse, 'n sakeman van Levubu, het Maandagoggend (3de) op die beskadigde grafte van sy moeder en vader afgekom. Die betonblad van die graf van sy moeder, wat in 1997 begrawe is, is oopgekap en die grafsteen staan heeltemal skuins. Sy vader, wat in 1977 begrawe is, se graf is ook geskend. Die groot bos proteas wat mnr. Frik Willemse, Pieter se broer, op 26 Desember verlede jaar tussen die twee grafstene neergesit het, is verbrand. Die vier plastiekruikers is ook almal verbrand, sodat net 'n kolle gesmelte plastiek oorgebly het.

"Ek het geen woorde nie," het mnr. Pieter Willemse verslae gesê. "Sou dit nou die werk van vandale of duiwelaanbidders wees?"

Sy moeder se graf het in Desember 'n effense krakie getoon. Dit kon dalk verklaar waarom juis die Willemse se grafte uitgekies is om oop te kap. Die munisipale geboutjie op die terrein wat regoor die spesifieke grafte geleë is, versper ook moontlik die sigbaarheid van misdadigers. Hy is oortuig dat daar geen sprake kan wees van 'n persoonlike vendetta teen hulle familie nie. 'n Saak vir grafskending is by die plaaslike SAPD oopgemaak en die ondersoekbeampte is inspekteur Jones Mbedzi. Mnr. Willemse is ook besig om die saak met die munisipaliteit op te neem.

Die persoon wat eerste op die grafskending van die Willemse-grafte afgekom het, is mnr. Robbie Roodt van die plaas Welgevonden op Levubu. Elke Sondag besoek die Roodt-gesin die begraafplaas, waar hulle seun begrawe lê. Die grafskendings het hulle met afgryse vervul.

"Ek sou reken dat dit die werk van satansaanbidders is," het mnr. Roodt gesê. Hy het ook 'n ernstige waarskuwing gerig aan grafskenders wat dit durf waag om sy kind se graf te skend.

Mnr. Roodt wil ook die algemene uiters swak toestand van die begraafplaas onder die Makhado Munisipaliteit se aandag bring.

"Gaan kyk 'n bietjie na die begraafplase op Musina of Polokwane," sê hy. "Die Louis Trichardt begraafplaas is baie onnet en swak versorg. Verder word blomme en plante wat deur die families van die oorledenes aangeplant word, op 'n gereelde basis gesteel."

In November verlede jaar het mnr. Piet Bezuidenhout ook sterk kapsie gemaak teen diefstal van aangeplante blomme by die graf van hulle seun, Charl.

Daar is al hoe meer inwoners wat voel dat die munisipaliteit hulle plig behoort na te kom deur te sorg dat die begraafplaas netjiese en goedversorgde tuine het wat 'n rustige atmosfeer skep. Sekuriteitsmaatreëls behoort in plek gestel te word om diefstal en grafskendings te voorkom.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines