

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 January 2003
LOUIS TRICHARDT – Die omstrede herleiding van swaar voertuie op die onvoltooide N1 oor die Soutpansberg, was vandeesweek aanleiding tot 'n krisis wat die onhoudbare situasie op hoë vlak onder die aandag van die weermag, polisie en padadministrasie gebring het. 'n Noodvergadering van alle belanghebbendes is vir vroeg volgende week belê om die situasie indringend onder die loep te neem.
Alle verkeer op die N1 noord van Louis Trichardt is Woensdagoggend vir etlike ure tot stilstand gedwing deur 'n swaar voertuig wat in die bergpas onklaar geraak het. Die duur oponthoud het vir ure voortgeduur, ongeag versekerings deur 'n veiligheidsdeskundige, dat hoë gehalte gebeurlikheidsmaatreëls in plek is om enige situasie tydens die huidige padbouwerk in die berg te hanteer.
Ooggetuies op die toneel sê daar was vier ure na die voorval nog geen aanduiding van die "noodaksies" wat hoog opgegee is deur 'n veiligheidskonsultant van die Nasionale Padagentskap, tydens 'n vorige mislukte vergadering van belanghebbendes in Polokwane. Dié vergadering is onverrigtersake uiteen, nadat nie een van die departemente wat regstreeks by die omstrede besluit betrokke was, by die vergadering opgedaag het nie. 'n Verteenwoordiger van die Provinsiale Padagentskap en van die Suid Afrikaanse Padagentskap was op die vergadering onversetlik, ten spyte van belanghebbendes se dringende versoek dat die besluit om alle swaar verkeer te dwing om die N1 te gebruik, in die belang van verkeersveiligheid tydelik opgehef moet word, totdat die huidige bouwerk aan die pad voltooi is. Na afloop van die vergadering het 'n verteenwoordiger van die TLU SA dit duidelik gestel dat die betrokke owerhede verantwoordelik gehou sal word vir enige lewensverlies wat deur die onbesonne en eensydige besluit en onverskilligheid jeens besware veroorsaak mag word.
Die teenwoordigheid van 'n groep blanke boere by vandeesweek se insident in die bergpas, digby Ingwe Ranch, was aanleiding tot algemene bewerings dat die blokkering van die N1 'n protesaksies deur die boere was. Die bewerings is amptelik ontken.
'n Woordvoerder van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, mnr. Gideon Meiring, het by die toneel gesê 'n groepie boere en sakemanne was onderweg na 'n vergadering en het omstreeks 08:00 in die situasie beland toe 'n swaar voertuig oënskynlik onklaar geraak en skuins oor die pad tot stilstand gekom het. Verkeer het weerskante van die toneel vir etlike kilometers opgehoop en die situasie het vir nagenoeg vier ure voortgeduur.
"Die totale onvermoë om die situasie te kan hanteer, blyk uit die feit dat daar na 'n hele uur nog niemand opgedaag het om dit te beredder nie. Selfs nadat verskeie senior rolspelers opgedaag het, het die ernstige ontwrigting van die hoofwegverkeer vir nog etlike ure voortgeduur." Senior lede van die polisie, weermag en verkeersafdelings het die toneel besoek.
Mnr. Meiring het ontken dat die ontwrigting 'n georganiseerde protesaksie was.
"Ons het in die situasie aangeland en deel van die kwessie geword. Ons het dit duidelik gestel dat dit nou onhoudbaar is en dat ons verantwoordelike segsmanne op die toneel wil sien. Dit was duidelik dat die situasie sou voortduur as ons nie sou help nie."
'n Plofbare situasie het op die toneel ontstaan, toe 'n swartman 'n dreigende houding teenoor die blanke boere ingeneem het en hulle gedreig het met brandstigting en toenemende plaasaanvalle. Hy het volgens omstanders gesê: "Mugabe sal hier kom help om die gebied skoon te maak." Die boere het by die polisieverteenwoordigers daarop aangedring dat die persoon in hegtenis geneem moet word. Die polisie het die man toe van die toneel verwyder.
Mnr. Meiring het gesê hoewel die boere nie aandadig is aan die versperring van die pad nie, hy dit duidelik moet stel dat as die owerheid nie spoedig iets aan die kunsmatige krisis doen nie, daar geen uitweg sal wees as om saam met ander rolspelers tot optrede oor te gaan nie.
"As ons betrokke sou raak, vra ons by voorbaat verskoning vir die ongerief wat dit noodwendig vir alle motoriste sal meebring. Die positiewe les uit vandeesweek se krisis is dat 'n oplossing spoedig moontlik is, wanneer ons soos volwassenes met mekaar praat en na mekaar luister. Dit kan sinvol bestuur word. Die owerheid sal eenvoudig moet leer om sinvol te regeer," aldus mnr. Meiring.

ADVERTISEMENT:
