ADVERTISEMENT:

 

Plaasvrou fnuik aanvaller se planne

 

News  Date: 31 January 2003

 

LOUIS TRICHARDT – Was dit nie vir die feit dat haar aanvaller ietwat van 'n swak skut was nie, kon die 54-jarige mev. Markie Els van die plaas Rondebosch weliswaar verlede week deel geword het van die moordstatistiek ten opsigte van plaasaanvalle in die land. Die voorval het egter ernstige kommer laat ontstaan oor die polisie se optrede na afloop van die voorval.

Mev. Els het vertel dat sy op Donderdag (23ste) omstreeks 08:45 haar bediende, me. Sarah Chauke, gehoor gil het buite haar en haar man, Hennie, se plaaswoning. Sy het na die voordeur geloop en deur die diefwering na buite uitgekyk.

Tot haar skok het sy 'n swart man, geklee in 'n tweestuk blou oorpak, gewaar wat met durf na die huis aangestap gekom het. Hy was gewapen met 'n 9mm-pistool in sy hand en met die wat sy by die diefwering uitloer, het die man onmiddellik sy vuurwapen op haar gerig en die sneller getrek. In daardie stadium was hy minder as tien meter van haar af weg.

Die koeël het reg langs mev. Els teen die muur vasgeslaan, waarna dit vanaf 'n gasbottel weggeskram het.

Mev. Els, wat ten alle tye haar .38-rewolwer saam met haar dra, het besef dat sy nie kon terug skiet nie, aangesien Sarah reg agter die man langs 'n buitegebou geskuil het. Sy het toe die huis ingevlug en 'n skoot deur die kamervenster afgevuur. Die aanvaller, wat klaarblyklik oor net een patroon beskik het, het dadelik op die vlug geslaan toe hy hoor dat mev. Els ook gewapen was. Mev. Els het toe, net vir veiligheid en om seker te maak die aanvaller kry die boodskap, 'n skoot oor die stoor afgevuur in die rigting waarin hy weggehardloop het.

Oomblikke later het sy iemand hoor fluister. Dit was Sarah wat steeds buite die huis geskuil het. Mev. Els het toe eers seker gemaak dat niemand anders vir haar wag nie, waarna sy vir Sarah oopgesluit het. Dit was toe dat Sarah haar vertel het van hoe die man haar by die buitegebou oorval het, die pistool op haar gerig het en vir haar in Afrikaans meegedeel het: "Vandag eet julle hierdie ding!" Hy het haar toe beveel om stil te bly, waarna hy na die huis begin stap het.

Mev. Els, asook haar man het na afloop hul ernstige ongelukkigheid uitgespreek oor die polisie se optrede na afloop van die aanval. Eers kon hulle nie deurkom na die 10111 noodnommer nie. Toe hulle wel deurgekom het, het niemand geantwoord nie. Hulle het toe via familielede die polisie ontbied. Intussen het haar seun, Chrisjan, en 'n vriend van hom, Hugo, op die plaas opgedaag en die verdagte se spoor begin volg in die rigting van die Ben Lavin Natuurreservaat. Hulle het die verdagte verskeie kere gewaar, asook 'n afdruk gekry van waar hy met die pistool in die grond gedruk het. Alhoewel daar wel twee polisiebeamptes vinnig op die toneel was om verklarings te neem, was daar niemand wat baie moeite gedoen het om bewysstukke op te spoor nie, soos die doppie en die koeëlpunt nie. Dié is later deur familielede gevind en aan die polisie oorhandig. Sowat vyf ure het ook verloop, voordat polisiebeamptes opgedaag het om mev. Els se seun te help met die soektog. Dit nadat hulle kort na die voorval van Chrisjan se soektog in Ben Lavin in kennis gestel is. Die Els-familie was egter vol lof vir die personeel van LMB Louis Trichardt wat dadelik 'n helikopter gestuur het om te help met die soektog.

"Dit is duidelik dat die polisie na hul besoek aan die plaas bloot weer terug gegaan het kantoor toe," vertel mev. Els. Sy het ook genoem dat van die polisiebeamptes, wat kort na die voorval weer teruggekeer het dorp toe, eers 'n nabygeleë hoenderplaas besoek het vir inkopies.

Nodeloos om te sê, die verdagte was teen druktyd steeds op vrye voet. Inwoners in die omgewings word gewaarsku om op die uitkyk te wees vir die man, aangesien hy al telkens in die omgewing opgemerk is.

Kapt Ronel Otto van die SAPD in Polokwane het Woensdag gesê dat hulle kennis neem van die voorval en dat hulle ondersoek sal instel na die omstandighede rondom die polisiebeamptes se optrede.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines