

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 January 2003
LOUIS TRICHARDT – Die Bosveld is bekend vir sy jagstories van "koedoes jag agter die Soutpansberg" en so ook sal die verhaal van Coenie Burger en 'n jagmaat van hom se lewe-en-dood worsteling met 'n volgroeide koedoebul nog vir lang jare om die kampvuur vertel word.
Coenie vertel dat hy en 'n jagmaat van hom, Jan Opperman, Saterdagmiddag uitgegaan het veld toe om 'n koedoe te skiet vir die maak van biltong op sy plaas naby Bokmakierie. Coenie se vrou, Lenie, en Jan se dogter, Yolandi, het saam gery.
Teen skerp skemer, gewaar Coenie toe 'n allemintige uitgegroeide koedoebul in digte bosse. Net die koedoe se kop was sigbaar en Coenie besluit toe sommer om die bul in die kop te skiet. 'n Kopskoot sou die minste verlies aan bewerkbare vleis beteken.
Met die knal van die skoot, het die koedoebul in sy spore inmekaar gesak. Die twee mans het toe van hul voertuig afgeklim en na die koedoe begin stap - sonder die geweer.
By die koedoe, het Coenie eers aan een van sy pote gestamp om seker te maak hy is dood. Daar was geen reaksie nie. Een van die bul se horings het langs hom gelê, maar dit het gelyk asof die horing afgebreek het op die punt waar die patroon by die bul se skedel uit is. Coenie het toe sy mes uitgehaal om die bul keelaf te sny, maar min kon hy en Jan egter voorberei vir wat volgende gebeur het.
Toe Coenie se mespunt deur die bul se nekvel druk, het die koedoe skielik begin regop kom. Tyd vir omdraai en weghardloop was daar nie, en beide Coenie en Jan het die bul vasgegryp – Coenie om die nek en Jan om die boude.
Die bul het regop gesteier, weer inmekaar gesak en toe weer regop gekom. Daarna het hy vir sowat tien minute lank die wêreld omgeploeg met Coenie en Jan wat moes klou vir al wat hul werd is. Die koedoe het later weer inmekaar gesak en na 'n rukkie se rus, het Coenie weer probeer om hom keelaf te sny, die keer met sukses.
Na die worsteling met die koedoe, het Coenie gemerk dat hy nooit die bul se kop raakgeskiet het nie. Die koeël het die bok se een horing getref en hom net tydelik buite aksie geslaan. Beide Coenie en Jan het maar ietwat sleg van die hele petalje afgekom. Coenie se blou kolle oor omtrent sy hele lyf het teen Dinsdag nog as getuienis gedien vir sy ontmoeting met die bul en Jan was nie veel beter daaraan af nie.
Coenie sê hy kon nie glo hoe sterk die bul was nie. Hy het ook verwys na die paar goeie houe wat die bul hom oor sy ribbes toegedien het met sy "gesonde" horing. Weens die klipperige aard van die omgewing, sê hy, is die letsels op hul boude ook nog ver van gesond af. Op 'n vraag watter raad hy aan voornemende jagters sou gee, het Coenie geantwoord: "Skiet hom weer óf onthou om jou geweer saam te vat!" Nodeloos om te sê, Coenie-hulle het die laaste hou ingekry en die koedoe hang reeds in biltongrye.

ADVERTISEMENT:
