ADVERTISEMENT:

 

Hondejagters raak nog meer vermetel

 

News  Date: 24 January 2003

 

LOUIS TRICHARDT – 'n Voorval waarin 'n rekord koedoebul op die plaas Bankop van kant gemaak moes word, nadat dit lewendig deur 'n trop van sowat tien jaghonde verskeur is, het die afgelope week weereens die soeklig geplaas op die lot van wild- en veeboere in die omgewing.

Die hele land het Sondagaand met skok gekyk na 'n uittreksel op 50/50 oor die probleem van onwettige wild- en veestropery op plase in Zimbabwe deur die gebruik van onder meer opgeleide jaghonde. Te midde hiervan is dit ook 'n probleem waarmee wild- en veeboere in die omgewing ook al vir jare lank meer sukkel. Die probleem blyk egter al hoe erger te word, met boere wat nou vra vir swaarder vonnisse, aangesien die bestaande strawwe en boetes nie meer as afskrikmiddel dien nie.

Omstreeks 21:00 op Woensdag (15de) moes mnr. Alec Nel van die plaas Bankop net buite Louis Trichardt 'n rekord koedoebul met 56 duim horings van kant maak, nadat die bul lewendig deur 'n trop van sowat tien jaghonde in 'n onwettige strooptog verskeur is. Buitelandse jagters betaal R10 000 en selfs meer om bulle met dié grote horings te skiet.

Mnr. Nel vertel dat hy die honde hoor blaf het en na buite gestorm het. Sowat vyf meter vanaf die huis se voordeur het hy die koedoebul gewaar. Die bul het reeds gelê, met een hond wat aan sy neus gehang het en 'n paar op sy rug en by sy pote. Mnr. Nel het wild op die honde met sy jaggeweer begin skiet en in die proses drie op die toneel doodgeskiet en 'n verdere twee gewond. Die oorblywende honde het op die vlug geslaan, waarna mnr. Nel die bul moes skiet vanweë sy beserings.

Mnr. Nel is maar net een van baie boere wat feitlik daagliks wild- en veeverliese ly as gevolg van onwettige jagtogte op plase. Hy noem dat die onwettige jagters van fyn uitgewerkte deurgangsroetes gebruik maak, waarvolgens hulle van plaas tot plaas beweeg, totdat hulle hul kwotas volgemaak het. Op die drie jagplase in die Mollevel-groep, waarvan Bankop een is, sê mnr. Nel dat hulle die afgelope jaar reeds sowat R160 000 se wild en vee verloor het. Hy sê boere is nou moeg vir dié toedrag van sake.

Mnr. Nel sê dat dit veral ontstellend is vir hom om te sien hoe arrogant hierdie onwettige jagters is. In een geval het hulle een van sy beeste in die drukgang ingejaag, waarna hulle hom met 'n byl doodgekap het en die kop as "trofee" vir hom op 'n paal in die kraal gelos het. Soortgelyk hieraan is die geval waar 'n groep onwettige jagters mnr. Tobie Steenkamp van Bandelierkop openlik met die dood gedreig het deur vir hom 'n boodskap in die sand te skryf wat sê: "Kill u next time." Die onwettige jagters het dae later hul dreigement probeer uitvoer, maar gelukkig sonder sukses. 'n Kru boodskap in die sand is ook wat op nog 'n boer van die omgewing en voorsitter van die Bankop Aksie Komitee, mnr. Gert van Zyl, gewag het. Die woorde "Fuck you" was in die sand geskryf op 'n plek waar onwettige jagters bekend is om sy plaas binne te kom. Langs die woorde het hulle vir hom 'n paar stukkies vleis gelos van 'n dier wat onwettig gejag is.

Die probleem van onwettige wild- en veestrooptogte op plase is daagliks aan die toeneem met boere wat al meer en meer 'n "geen genade" houding teenoor die jagters inneem. In 'n intensiewe opvolg operasie kon die SAPD daarin slaag om ure na die voorval op mnr. Nel se plaas 'n verdagte op Mailaskop aan te keer. Mnr. Nel het sy waardering teenoor die polisie uitgespreek vir hul flinke optrede. Hy het ook genoem dat dit vir hom verblydend is om te sien hoe baie die Bankop Aksie Komitee, waarvan hy lid is, kon verrig het in samewerking met die polisie. Ook mnr. Van Zyl het sy dank aan die polisie uitgespreek en gesê dat boere, na aanleiding van talle vergaderings, begrip het vir die polisie en die probleme waarmee hulle gekortwiek word. Hy het bygevoeg dat belanghebbendes andermaal die noodsaaklikheid van saamstaan en samehorigheid moet besef en dat dit veral opbouend is om te sien hoeveel opkomende swart boere die behoefte het om by aksies in die bestryding van misdaad betrokke te raak.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines