ADVERTISEMENT:

 

Grootste wildveiling nog in SA

 

News  Date: 23 July 2004

 

POLOKWANE – Die grootste wildveiling nog in die geskiedenis van die land het Saterdag (17de) by die Meropa Sun plaasgevind.

Die veiling is aangebied deur die Limpopo Toerisme en Parke Raad (LTPR). Altesaam 3 600 stuks wild is aangebied en is sonder uitsondering verkoop. Goeie pryse is behaal, veral as daar in ag geneem word dat dit ‘n katalogusveiling van die LTPR se reservate in die provinsie was. Die aanbod was aanvanklik 5 000 stuks wild, maar as gevolg van die uitbraak van bek-en-klouseer in die laeveld het reservate in daardie gebied nie diere verkoop nie.

Die groot aantrekkingskrag was die 42 bastergemsbokke, 28 skoon Addo buffels, 59 basterhartbeeste en 10 swartwitpense. Die veiling het ‘n totale omset van R19 512 650 opgelewer.

Die bastergemsbokke verkoop vir ‘n gemiddeld van R162 500 (hoogste R180 000), terwyl basterhartbeeste en blouwildebeeste onderskeidelik vir gemiddelde pryse van R18 330 (hoogste R19 000) en R1 215 (hoogste R1 600) onder die hamer kom.

Siektevrye buffels behaal ‘n gemiddelde prys van R154 500 (hoogste R165 000), terwyl elande en gemsbokke onderskeidelik opgeveil word vir gemiddelde pryse van R3 997 (hoogste R4 100) en R3 754 (hoogste R4 900).

Kameelperde, koedoes en sebras behaal gemiddelde pryse van onderskeidelik R12 694 (hoogste R14 500), R1 395 (hoogste R2 000) en R3 954 (hoogste R4 300), terwyl njalas en rooibokke verkoop vir gemiddelde pryse van R6 151 (hoogste R7 000) en R471 (hoogste R600).

Die gemiddelde prys van rooihartbeeste en swartwitpense was onderskeidelik R3 892 (hoogste R4 000) en R75 000, terwyl volstruise en waterbokke gemiddelde pryse van onderskeidelik R1 900 (hoogste R2 000) en R4 057 (hoogste R4 600) behaal.

Wat manlike diere betref, verkoop buffelbulle vir ‘n gemiddelde prys van R55 500 (hoogste R58 000), terwyl swartwitpensbulle ‘n gemiddelde prys van R25 000 behaal.

Die veiling is aangebied deur Vleissentraal Bosveld (Potgietersrus) met mnr. Willie Roux as afslaer.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines