ADVERTISEMENT:

 

Wêreldbekende orrelis besoek Louis Trichardt

 

News  Date: 24 January 2003

 

LOUIS TRICHARDT – Inwoners sal op 13 Maart die unieke geleentheid kry om te luister na een van die wêreld se bekendste orreliste, Martin Mans van Nederland, tydens 'n optrede in die N.G. Kerk Louis Trichardt-gemeente (Haantjiekerk).

Mans se besoek volg na 'n optrede in Polokwane verlede jaar, waartydens hy deur plaaslike musiekliefhebbers uitgenooi is om ook op Louis Trichardt op te tree. Hy is welbekend in Europa en het ook al 'n paar optredes in Kanada, VSA en Australië gelewer. Wat hom van die meeste ander orreliste onderskei, is sy fenomenale improvisasietalent, 'n talent wat ook groot komponiste soos Bach, Beethoven en Händel gehad het. Toe hy met sy orrellesse op baie jong leeftyd begin het, moes sy eerste leermeester hom streng kortvat om eers die dissipline van normale bladlees goed onder die knie te kry, voordat hy hom oorgee aan die drang om te improviseer.

Mans het 'n feillose aanvoeling vir sy gehoor. Hy speel nie net swaar kerkmusiek nie, maar ook enige musiek wat pas by die instrument. Sy eerste Improvisasie-CD het goue status ontvang met die verkoop van 25 000 eksemplare. Die getal verkope het intussen reeds verdubbel. Buiten vir dié CD, het Mans ook saam met Martin Zonnenberg konserte op twee orrels en 'n vleuelklavier gehou waarvan CD's gemaak is. Daarbenewens het hy veertien bundels vereenvoudigde bladmusiek van sy improvisasies gepubliseer, wat hoog in aanvraag is.

Diegene met 'n voorliefde vir goeie musiek moet dus nie Martin Mans se optrede op Louis Trichardt misloop nie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines