

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 January 2003
LOUIS TRICHARDT – Ongelukkigheid is aan die toeneem oor die Makhado Munisipaliteit se traagheid om nuwe padmerke aan te bring op dorpstrate wat reeds vroeg in Desember oorgeteer is.
Die grootste kopseer blyk by stopstrate te wees. In baie gevalle word die stopstrate deur bome se oorhang-takke versper en weens die afwesigheid van padmerke wat motoriste betyds kan waarsku, kan motoriste nie betyds stop nie. Inwoners is van mening dat dié tendens 'n potensiële gevaar skep vir ongelukke en moontlike lewensverlies. Daar is ook reeds gevalle waar inwoners in ongelukke betrokke was, aangesien hulle nie betyds kon stop nie. Nog meer kommerwekkend is die feit dat plaaslike verkeersbeamptes klaarblyklik die situasie uitbuit en stopstrate, waar geen vooraf waarskuwing gegee word deur padmerke nie, teiken as plekke om persone te beboet wat oor die stopstraat ry.
Die waarnemende Munisipale Bestuurder, mnr. Vic Viljoen, het Dinsdag gesê dat hy bewus is van die probleem. Hy het genoem dat jare lange inwoners nie die afwesigheid van padmerke kan gebruik as verskoning waarom hulle nie gestop het nie, aangesien hulle weet waar die stopstrate is. Hy het ook bygevoeg dat daar geen regulasie is wat bepaal dat padmerke by stopstrate aangebring moet word nie en dat 'n stopstraat steeds wettig is, al is daar nie padmerke nie. Mr Viljoen het egter wel onderneem om die kwessie met die betrokke raadsdepartement op te neem en toe te sien dat padmerke aangebring word.

ADVERTISEMENT:
