ADVERTISEMENT:

 

Swart boere loop ook deur onder misdaad

 

News  Date: 17 January 2003

 

LOUIS TRICHARDT – Op 'n vergadering belê deur die Bankop Aksie Komitee, 'n organisasie wat poog om die probleem van misdaad en onwettige jag op plase in die Fort Edward-, Malaiskop-, Elim-, Vleifontein- en Bandelierkop-omgewing te probeer aanspreek, het sekere belangrike nuwe feite Vrydag (10de) na vore getree.

Hoe negatief daar ookal voorheen na die uitkoop van gronde vir oorhandiging aan voorheen benadeeldes gekyk was, blyk dit nou dat die nuwe eienaars in vele opsigte erger as blanke boere getreiter word deur misdaad en veediefstalle. Gegewe die feit dat dié boere nou deel van 'n probleem geword het wat voorheen deur hulle negatief benader was, tree frustrasies, moedeloosheid, opstandigheid en selfs 'n mate van woede na vore dat misdaad onmiddellik aangespreek moet word.

So byvoorbeeld wou een spreker weet of hy polisievoertuie wat onwettig op sy grond visvang, mag aan die brand steek? 'n Ander spreker het gesê dat mense moeg is om na afgesaagde verskonings van "Geen voertuie of geen fondse" te luister. Nog 'n spreker het in sterk bewoorde terme gesê dat dit tyd geword het dat die benaming "Polisiediens" weer gewysig moet word na Polisiemag, 'n organisasie wat tande het om te byt.

Die organisasie "Farmers Association of the North" (Limpopo-tak) wat grotendeels bestaan uit lede van opkomende swart boere het by monde van Mr Sam Moeti gesê dat misdadige elemente geen kleur onderskeid het nie. Hy het 'n beroep op blanke boere gedoen om kleurgrense af te breek en 'n organisasie te verwesenlik wat as een mondstuk probleme kan aanspreek.

In beginsel was daar gevolglik besluit om 'n massa byeenkoms in die vorm van 'n bring-en-braai te reël vir alle boere ongeag hul herkoms of kleur vir Vrydag, 14 Februarie. Die byeenkoms sal om 10:00 by die lapa van TJ Safari's, geleë ongeveer twee kilometer noord van die Adams Apple Hotel en direk bereikbaar vanaf die N1, begin. Die komitee is van mening dat die geleentheid 'n groot deurbraak kan bewerkstellig in die bekamping van misdaad en die bevordering van samewerking tussen onderskeie bevolkingsgroepe en landbou-organisasies. Op dieselfde byeenkoms sal daar ook besin word oor die stigting van 'n Gemeenskapspolisiëringsforum vir Bandelierkop, asook verdere besprekings en gedagtes met alle boere oor die boerderypad vorentoe.

Boere wat belangstel om die byeenkoms by te woon, word versoek om so spoedig moontlik kontak te maak met mnre. Sam Moeti (082 990 7526), Gustav van Reenen van TJ Safari's (082 897 6221), Gert van Zyl (082 713 6933) of Alex Nel (082 852 5986).

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines