ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Japie van Staden gooi die houertjie “grond” uit in sy handpalm wat hy uit sy bad bymekaar gemaak het, nadat hy “skoon” water ingetap het. Die rede vir die vuil water blyk ‘n gebarste pyplyn te wees.

Vuil water jaag bloeddruk op

 

News  Date: 14 January 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Met hoë temperature drukkend in die omgewing is water ‘n omstrede saak wat die bloeddruk van beide inwoner en plaaslike regering kan opjaag.

‘n Ontstoke inwoner het Maandag (10de) besluit genoeg is genoeg toe hy badwater intap en die badwater is weereens vol vuil swart slik. Mnr. Japie van Staden van Douthwaitstraat het daar en dan die prop weer uitgetrek en die hoop eienaardige swart substansie het in die bad agtergebly. Dié het hy in ‘n houertjie opgevang en na die munisipaliteit geneem.

“Ek het toe maar gestort en gehoop die vuil goed sal van my afval as ek loop!”

Mnr. Van Staden kla ook dat sy toilette pikgitswart is.

“Dit lyk nie vir my na gewone grond nie. Dit hou nou al amper ‘n week aan. Ek is bang dat al my masjiene wat met water werk beskadig kan word.” Hy het die Jacuzzi se water uitgetap en hoor nou ‘n snaakse fluitgeluid.

Dit was nog nie die einde nie. By die werk (Van Staden is Shoprite se bestuurder) was die water net so vuil en moes hulle water gaan koop om vir die werknemers koffie te maak. Intussen kla inwoners van die nuwe uitbreiding dat die water ‘n aaklige stank het.

Mnr. Masindi Mapholi, Direkteur Tegniese Dienste van die Makhado Munisipaliteit, het Dinsdag (11de) gesê dat monsters van die nuwe uitbreiding se water reeds geneem is, maar dat uitslae nog nie beskikbaar is nie. Dit blyk egter dat die reuke nie van die Albasinidam kom nie.

Wat die swart slik in die water betref, het mnr. Gideon van Zyl (Stadsingenieur) gesê dat ‘n pyp in die omgewing van Douthwaitstraat gebars het. Die pyplyn is na die aanmelding oopgemaak en skoongespoel. ‘n Groot pyp wat bars, het ‘n invloed op die watervlakke in die reservoir, wat in hierdie stadium laag is.

Mnr. Van Zyl het verduidelik dat die gedeelte van die dorp wes van die N1 water uit boorgate ontvang en die gedeelte oos van die N1 vanaf die Albasini.

“Wanneer ons vashaak met water, onttrek ons water direk uit die groot reservoir. Dit geld vir beide gedeeltes,” sê mnr van Zyl. “Ons moet dus goeie bestuur toepas om konstante watervlakke te handhaaf.”

Met die uitermatig hoë temperature gebruik inwoners egter baie water. Mnr. Mapholi sê dat inwoners te veel water gebruik, tot so ‘n mate dat die reservoirs op hulle laagste vlak is.

Intussen het die Albasinidam ook gesak tot 62,2 % gemeet op 5 Januarie. Wat die gerug betref wat beweer dat mense al boetes gekry het vir tuin natspuit, dra die munisipaliteit geen kennis daarvan nie.

“In hierdie stadium beboet ons nie, maar ons vra vriendelik dat inwoners hulle by die waterbeperkings hou, anders word ons dalk genoodsaak om die boeteklousule in plek te kry,” het ‘n munisipale woordvoerder gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines