

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 January 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die rassekaart is weer gedurende die Desembervakansie gespeel vir klaarblyklike politieke gewin tydens ‘n voorval op die plaas Outlook van mnr. Bill Oldrieve.
Lede van die Songozwi-gemeenskap het die plaas wederregtelik betree in ‘n poging om toegang te kry na die Venda-leiers se koninklike grafte op die plaas Alexandra by die Songozwi-nedersetting. Die omstrede wyse waarop toegang verkry is het reaksie landwyd ontlok, veral deur politieke leiers wat die geleentheid aangegryp het om politieke punte te wen ten opsigte van die wit/swart-kwessie. Die insident kom te midde van die regering se soms kontroversiële grondhervormingsprogram.
Op 30 Desember het die Songozwi-groep van ‘n paar honderd mense sterk met polisiebegeleiding en met behulp van ‘n munisipale stootskraper die toegangshek van mnr. Oldrieve se plaas uitgestoot om toegang te verkry. Toe die plaasbestuurder probeer uitvind wat aan die gang is, is hy meegedeel dat hulle ‘n hofbevel het wat hulle toegang tot die plaas bied. Op ‘n vraag of hy die hofbevel kan sien het die oproerige skare die plaasbestuurder omsingel en begin rondruk. Hy moes inderhaas deur lede van die polisie uit die skare begelei word. Die stootskraper is daarna aangewend om ‘n pad deur die plaas te stoot na die koninklike begraafplaas op die plaas Alexandra.
Die groep het aangevoer dat mnr. Oldrieve geen reg gehad het om die pad oor sy privaat grond toe te maak nie. Jare gelede, met Venda-leier Mphephu se dood in die tweede helfte van die 80’s, het mnr. Oldrieve se pa, wyle Frank Oldrieve, toestemming gegee dat ‘n pad deur die plaas Outlook gemaak mag word om die koninklike grafte te bereik met dié onderneming dat dit slegs vir Mphephu se begrafnis gebruik mag word. ‘n Serwituutpad deur die bosbouplantasie is reeds in 1941 aan die Songozwi-gemeenskap gegee om die grafte te bereik. Terselfdertyd is daar ook 1,3 morg aan die Songozwi-gemeenskap gegee vir die huisvesting van vyf gesinne om die grafte in stand te hou.
Weens die feit dat baie mense die pad misbruik het vir vierwieluistappies en onwettige jag, het die Oldrieve-familie besluit om die pad oor hul plaas weer toe te maak. In September 2003, kort na Bill se pa se dood, het die munisipaliteit die eerste keer die hekke gaan uitstoot. Na ‘n lang geveg met die Raad het mnr. Oldrieve weer die pad toegemaak en daar is ooreengekom dat die pad gebruik mag word slegs vir spesiale byeenkomste met vooraf toestemming.
Dit is duidelik dat die Songozwi-gemeenskap ‘n politieke standpunt wou maak deur aan te dring om deur mnr. Oldrieve se plaas te ry en nie gebruik te maak van die serwituutpad nie. Mnr. Oldrieve het ‘n paar weke voor die voorval slote oor die betrokke pad gegrawe vir beesoorgange en pypleidings. Dié slote is met behulp van die Raad se stootskraper toegestoot.
Argumente word nou oor en weer geslinger met betrekking tot wie nou eintlik verkeerdelik opgetree het. Die boerbedrygemeenskap voer aan dat ‘n persoon die reg het om toegang tot sy privaat grond te beheer, terwyl die Songozwi-groep klaarblyklik voel hulle het reg tot toegang tot die plaas aangesien die hul grondeis op die plaas reeds gepubliseer is in die staatskoerant. Die polisie se motiewe is ook sterk onder verdenking, veral nadat ‘n lid van die boerderygemeenskap een van die polisiebeamptes op die toneel versoek het om teen die betreders op te tree. Hy is deur die polisieman meegedeel “dat daar nie meer ‘n ding is soos betreding bestaan nie”. Die Raad se politieke motiewe ten opsigte van hul betrokkenheid is ook onder verdenking. Die vraag word gevra hoe die munisipaliteit, met behulp van die belastingbetaler se geld en toerusting, betrokke kan raak by só ‘n politieke geskil. Dit blyk nou dat daar nooit ‘n hofbevel was nie en die Raad wederregtelik opgetree het. Intussen is daar klagtes van saakbeskadiging teen die Raad, die Songozwi-gemeenskap en die polisie aanhangig gemaak. Die saak duur voort. Herhaalde pogings om te probeer kontak maak met die munisipaliteit se waarnemende munisipale bestuurder, me. Faith Muthambi, was onsuksesvol Me. Muthambi was op die toneel op 30 Desember. Geen kommentaar kon egter van haar bekom word nie, want sy was telkens besig, nie in haar kantoor nie of in ‘n vergadering. Talle boodskappe is by haar ontvangsdame gelos.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
