

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 January 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Moederskap maak elke vrou mooier, is al gesê. Wat dan van ‘n internasionale model wat al klaar skoonheid versinnebeeld?
Pragtige Christina Storm het saam met klein Ruby Cina op die dorp gekuier en weliswaar is sy nog mooier as tevore, met die sagtheid van moederskap op haar gesig en die oë helder wanneer sy oor haar kleinding praat.
“Sy is so soet en maklik. Snags as sy deur ‘n voeding slaap, dan word ek wakker en verlang ek na die ou lyfie,” sê Christina wat Ruby graag tot ten minste twee jaar wil borsvoed. Ruby Cina was op die 28ste Desember vier maande oud.
Oupa en ouma Jan en Kittie de Bruyn is natuurlik gaande oor Kittie se kleindogter en geniet elke oomblik van die kuier. Kittie speel net pop en Jan, bekende plaaslike digter, het al vier gedigte oor Cina geskryf. Jan en Kittie noem haar Cina en Christina en pa James Small verkies Ruby.
“James is mal oor die kleintjie en verlang baie na haar as ek kuier,” sê Christina. Kittie het tevore foto’s gewys van James by die bevalling waar trane oor sy wange stroom. Daar is nie onmiddellike trouplanne nie.
Christina sê dat Ruby se koms haar lewe verander het in die sin dat sy nou meer bepland moet lewe.
“Ek stres meer oor finansies en ek dink nou al waar gaan sy skool toe…,” sê Christina, wat self haar matriek in 1992 aan die Hoërskool Louis Trichardt geskryf het. Sy sê dat sy nou nog nagmerries oor die Geskiedenis langvrae kry.
Na haar matriek het Christina dadelik die modelwêreld betree. Sy het in vele wêreldstede gewoon, insluitend Parys, Milaan, New York en London, asook in Japan en het in talle dele van die wêreld fotosessies gedoen, soos die Maldives, Seychelles en Istanbul.
“Ek was al in baie lande en ek wil nog baie lande sien. Ek leer baie van ander kulture en die geld is goed,” sê Christina wat nog steeds modelwerk doen.
“Nou vat ek dit net rustig. Ek aanvaar net halfdag sessies wat by Ruby se skedule inpas. Glad nie soos voorheen nie, waar jy dikwels 3 uur in die oggend opgestaan het, 4 uur begin die grimering en hare en dan skiet jy tot 11 uur in die aand …”
Die 31-jarige Christina se figuurtjie is nog net so perfek soos voor die geboorte van Ruby Cina, wat 3.1 kg geweeg het. Buiten die modelwerk het Christina ook nog haar eie klerereeks Hail Mary ontwerp en tot en met haar swangerskap ook in ‘n punk band, Terminatrix, gesing.
“Eerder geskree,” sê Christina met ‘n vonkel in die oog. “Ons het geskree oor dinge soos die emansipasie van die vrou en oor die media.”
Christina se planne vir 2005?
“Ek het nog nie regtig daaroor gedink nie. Om gelukkig te wees … Verlede jaar was dit om op te hou rook en dit het ek gedoen. Nou is dit om rustigheid vir my kind te skep, om vir haar liefde, kalmte en sekuriteit te gee.”
Intussen word dit tyd om kleinding wakker te maak vir die foto asook vir ‘n uiteetmiddag.
“Sy lag altyd as sy wakker word,” het Kittie vroeër gespog en sowaar, daar kom sy uit op Jan se arm, die ene laggies.
Christina het een van Jan se gedigte vir Cina geverf.
“Die laaste deel gaan omtrent so,” sê Christina. “… dat elke ouma- en elke oupahart en elke fee en elke engel hul vlerke om jou vou…”
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
