ADVERTISEMENT:

 

Plaasboer wreed met graaf vermoor

 

News  Date: 14 January 2005

 

POLOKWANE – Die regering kan ‘n sinvolle bydrae lewer tot die beskerming van die landbougemeenskap deur belastingaansporing vir plaasbeveiliging in te stel. Daadwerklike aandag aan die beveiliging van Suid-Afrika se grens met Zimbabwe is ook noodsaaklik.

So sê die Vryheids Front Plus in ‘n mediaverklaring na aanleiding van die jongste plaasmoord in die Limpopo Provinsie.

Die VF+ het skok en ontsteltenis uitgespreek oor die brutale moord op mnr. Ben Keyter van die plaas Dresden digby Alldays. Hy is vermoedelik met ‘n graaf dood geslaan. Sy vrou, Daleen, is tydens die plaasaanval ernstig aangerand. Die aanval het tydens die namiddag van 4 Januarie plaasgevind.

Twee mans, Mahlodi Abraham Sebola (30), ‘n Suid-Afrikaanse burger en Petrus Livhuwani Ndlovu (26) van Zimbabwe, het Maandag in verband met die moord voor die hof hier verskyn. Hulle het aansoek gedoen vir regshulp en die saak is tot 17 Januarie uitgestel.

Mnr. Keyter se broer Gawie is in Junie 1991 in ‘n soortgelyke aanval op die plaas Bella Vista in die distrik Petrus Steyn dood. Sy vrou is ook aangerand, maar het ontvlug en by bure hulp gaan soek, terwyl die aanvallers die plaaswoning aan die brand gesteek het.

Volgens ‘n mediaverklaring van die VF+ kan roof nie as die hoofmotief vir die jongste moord beskou word nie, aangesien net mnr. Keyter se pistool en sowat R70 uit mev. Keyter se handsak na bewering vermis word. Hulle het ‘n ernstige beroep op die regering gedoen om met dringende stappe daadwerklik by te dra tot die beveiliging van die boeregemeenskap. In dié verband word aan die hand gedoen dat die regering bystand in die vorm van belastingaansporing oorweeg om plaasbeveiliging te bevorder.

Die verklaring lui dat onwettige immigrante ook ‘n rol speel in die veiligheidsituasie. Die probleem van onwettige immigrante uit Zimbabwe vereis dringende aandag.

“Alles dui daarop dat hierdie soort aanvalle aan die toeneem is. Tydige en doeltreffende optrede het nou ‘n dringende noodsaaklikheid geword,” lui die verklaring.

Wyle Mnr. Keyter is Dinsdag (11 Januarie) op Vivo begrawe, in dieselfde begraafplaas waar sy skoonseun, mnr. Wimpie du Toit, begrawe is. Wimpie is in Junie verlede vanjaar in ‘n motorongeluk dood, sowat ‘n maand voor die geboorte van sy enigste seun. Hy en sy vrou Miempie het ook twee dogtertjies.

Mnr. Keyter se enigste seun, Japie, het in Desember aan ‘n hartaanval gesterf, na ‘n vroeëre geslaagde hartomleidingsoperasie.

Mnr. Keyter se broer Tony, ‘n bekende provinsiale jukskeispeler, wat op Nylstroom woon, het vandeesweek in ‘n onderhoud op Vivo gesê: “Dit is vir ons as familie hartseer om ‘n tweede naby lid aan gewelddadigheid af te gee.”

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines