ADVERTISEMENT:

 

Henri Boshoff by die twee ribbokke wat hy hierdie vakansie met een skoot platgetrek het.

Jonge Henri trek twee ribbokke met een skoot plat

 

News  Date: 14 January 2005

 

MAKAHDO (LOUIS TRICHARDT) - “Die langste plaasnaam wat daar bestaan is Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein!” Hierdie brokkie slimmigheid kom van Henri Boshoff (15) wat die afgelope vakansie twee bokke met een skoot platgetrek het.

Henri het ‘n jaggeleentheid gekry by Klipkrans naby Orania in die Noordkaap waar hy saam met sy ouers, ds. Willem en Nalize Boshoff en hul familie vakansie gehou het. Dit was twee dae voor sy verjaarsdag op 29 Desember.

“Dit was my eerste suksesvolle jagpoging,” sê Henri wat vertel hoedat hulle al douvoordag met die jaggewere gestap het.

“Ons het teen ‘n koppie uitgeklim (ja, daar is koppies!) en toe ons in die son inkom, het ons en die ribbokke mekaar gelyktydig gesien. Die bokke het om die kop gehardloop en ons het beweeg na waar hulle eers was. Ek sien toe ‘n bok met sy blad mooi oop. Ek het net die voorste een gesien. Ek het dooierus oor my pa se skouer geneem. Hy het naderhand gewonder of ek nog gaan skiet. Toe ek skiet, toe val daar twee!” vertel Henri.

Henri het gehelp met die afslag en opdeel in snitte. Dit was nou nadat hy die ooi se lewer moes sluk. Miskien noem Henri eendag sy plaas Tweeribbokooiemeteenskootmorsdoodgeskietkrans …

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines