ADVERTISEMENT:

 

Foute in finansiële afdeling

 

News  Date: 21 January 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Buitensporige elektrisiteitsrekeninge en meterlesings bly steeds ‘n bron van frustrasie en kommer. Om nie eers te praat van die afsluiting van noodsaaklike elektrisiteit nie.

‘n Besigheidsman, mnr. Krynauw Otto, se elektrisiteit by sy werkswinkel is Donderdag (13de) afgeskakel ten spyte daarvan dat sy voorman die munisipale amptenaar verseker het dat die rekening wel betaal is.

“Ek is baie ongelukkig, want ek kan nie my toerusting sonder elektrisiteit gebruik nie en ek verloor besigheid,” het mnr. Otto gesê. Hy het die munisipaliteit laat weet om sy krag te kom aanskakel, aangesien hy bewyse van betaling het. Teen Vrydag om 08:45 was daar nog nie reaksie nie en was hy genoodsaak om stappe te neem om die elektrisiteit aan te skakel sodat sy besigheid kon voortgaan.

Rekeninge wat onverklaarbaar op en af gaan, is nog een van mnr. Otto se probleme. ‘n Rekening wat normaalweg so by die R600 is, was in September 2004 sommer R2 123.94.

“Ek het dit maar gaan betaal sonder om navraag te doen, omdat ons gedink het dat dit so hoog is omdat die vorige paar maande geen meterlesings op die rekening aangedui was nie,” sê mev. Caroline Otto. Die volgende maand was die rekening toe egter R1 695.70 met ‘n buitensporige waterlesing van R884.56.

“Ek het glad nie ‘n karwassery nie en gebruik die minimum water by die werkswinkel,” sê mnr. Otto.

Op haar beurt bestuur mev. Otto ‘n kleuterskool. Toe die rekening by die skool die afgelope Desember sommer R300 hoër as gewoonlik was, het sy wel gaan navraag doen.

“Ons het nie in Desember gekook by die kleuterskool nie. Toe ek dit noem, het die twee dames agter die toonbank my uitgelag,” sê mev. Otto.

Mnr. Hannes de Lange, ‘n pensioenaris van die Southdownplotte, het besluit om mev. Marie Helm, DA Raadslid, te vra om namens hom navraag te doen oor sy probleem met sy elektrisiteitsrekening. Hy het in Desember ‘n skokrekening van R21 769.06 ontvang. Sy rekening is normaalweg so om en by R1 500. Hy is vol lof vir mev. Helm wat die saak namens hom reggestel het. Vir die munisipale Raad het hy egter ‘n sterkbewoorde boodskap: “Dit bring my sterk onder die indruk dat ons sit met mense in die Raad wat onbevoeg is om hulle taak na behore te doen. Dit is die gemeenskap se plig om onbevoegde mense uit die munisipale kantoor te verwyder. Die munisipale bestuur moet hulle verwyder. Maar dan wonder ‘n mens of die bestuur bevoeg is…”

Mev. Helm sê dat daar aanmekaar klagtes kom oor verkeerde rekeninge.

“Die geneigdheid van foute in die tesourie-afdeling behoort nie so te wees nie. Ons moet besef dat dit nie ‘n enkelvoudige probleem is nie. Die munisipale grense is te groot en 220 000 mense moet bedien word met ‘n infrastruktuur wat vir 15 000 bedoel is. Dit is egter nie ‘n verskoning vir probleme met onbekwaamheid nie,” sê Helm.

Intussen het die Raad kennis geneem dat die diens van die meterlesingsfunksie wat uitgekontrakteer is, onbevredigend is. Die kontrak het ‘n waarde van R1,2 miljoen per jaar en die Raad het ‘n verlies van meer as R1 miljoen per jaar as gevolg van verkeerde meterlesings, geen lesings en ander probleme.

Daar is ooreengekom dat ‘n behoorlike meterlesingsafdeling tot stand moet kom, binne die Departement Finansies, wat die meterlesing sal behartig. Die afdeling sal ook gemoeid wees met metertoetsing, probleemoplossing, vervanging van meters, die opvolging van foute en die aansluiting en afsluiting van kragvoorsiening. So gou as wat hierdie afdeling operasioneel is, sal die eksterne kontrak vir meterlesing beëindig word.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines