

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 January 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Verwarring rondom die nuutste onderwysstelsel is in ‘n groot mate opgeklaar tydens ‘n vergadering by Hoërskool Louis Trichardt toe die jongste inligting aan ouers deurgegee is.
Die skoolhoof, mnr. Henry Denner, het ouers van Graad 8-leerders gerus gestel dat die skool met proaktiewe optrede reeds aanpassings maak aan stelsels wat vorentoe in werking kom.
“As gevolg van jare se ondervinding weet ons wat die standaard is wat in die senior standerds vereis word en dit is waarnatoe ons beweeg,” sê mnr. Denner, wat saam met verskeie personeellede ondervinding van verskillende stelsels het en ook op talle huidige komitees dien.
Die huidige Graad 10’s is die laaste groep wat matriek sal skryf soos dit altyd bekend was.
Die Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring (HNKV) bevat verskeie veranderings. Hoewel die inligting die heel nuutste is, het mnr. Denner beklemtoon dat sekere aspekte nog aan finalisering onderhewig is:
* Wiskunde word ‘n verpligte vak vir matriek. Of Wiskunde, òf Wiskundige Geletterdheid kan geneem word.
* In die onderrig word hoërgraad en standaardgraad afgeskaf en word die vak op dieselfde vlak aangebied. Die verskil kom in by die assessering. Hoe universiteitsvrystelling bepaal gaan word, is ‘n punt waaroor nog ernstig gestoei word.
* Die nuwe sespuntskaal vir Graad 10 tot 12 is 0-29%=1, 30-39%=2, 40-49%=3, 50-59%=4, 60-69%=5 en 70% en hoër=6. Die slaagsyfer is 3. Die skool sal egter steeds in persentasies werk.
* Daar is agt leervelde (die leerareas van die jonger grade word nou leervelde) met verskillende vakke in elke leerveld. Die verpligte vakke is twee tale, een tipe Wiskunde en Lewensoriëntering. Die leerder neem sewe vakke. Daar moet dan nog drie vakke geneem word, waarvan twee vakke uit dieselfde leerveld moet kom ter wille van spesialisasie. Die derde vak kan uit dieselfde of ‘n ander leerveld kom. Elke skool kies watter leervelde hy wil aanbied en watter vakke aangebied kan word. Die leervelde met vakke is: Landbouwetenskappe, Kuns en Kultuur, Besigheid, Handel en Bestuurstudies, Tale, Vervaardiging, Ingenieurswese en Tegnologie, Mens- en Sosiale Wetenskappe, Natuur-, Wiskundige-, Rekenaars- en Lewenswetenskappe en -dienste.
* Die huidige Graad 8’s sal afgerolde notas gebruik en die minimum handboeke, aangesien die nuwe handboeke in Januarie 2006 gelewer sal word. Die nuwe Wiskunde handboek is egter alreeds in gebruik.
* Volgens die nuwe stelsel kan ‘n leerder uit die skool tree as hy 15 is of as hy Graad 9 geslaag het. Vanjaar se Graad 9’s gaan nog nie die AOO diploma (Algemene Onderwys en Opleiding) ontvang nie weens logistieke probleme en die opleiding van onderwysers as AOO assesseerders wat nog nie in plek is nie.
* Waar die ou UGO stelsel nie vir leerinhoude voorsiening maak nie, maar net vir uitkomste, is daar nou ‘n terugbeweeg na voorgeskrewe leerinhoude, wat ‘n verbetering op die ou sisteem is. Die uitkomste soos in die UGO bestaan nog, maar is minder in aantal en meer vaartbelyn.
“Kreatiwiteit word nog steeds aangewakker, soos met die ou UGO, maar daar is nou meer formele gestruktureerdheid. Die nuwe sisteem bevat die beste van twee wêrelde,” het mnr. Denner gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
