

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 January 2005
MUSINA – Hoërskool Eric Louw het tydens die 2004 eindeksamens skitterende prestasies behaal wat selfs op nasionale vlak die oë laat rek en waarnemers laat gons het.
Die skool het die afgelope week hulde gebring aan sy matrieks van 2004, wat ook hoë lof in die provinsie ingeoes het vir hul uitstaande vertonings.
Die skool het onder meer geskitter deur verskeie toppresteerders in die provinsie en in die Vhembe Distrik op te lewer. Van die matrieks se prestasies is selfs op nasionale vlak uitmuntend.
Corna Wierenga van Eric Louw is een van net twee leerders in die provinsie wat nege onderskeidings behaal het. Dit is selfs op nasionale vlak ‘n buitengewone prestasie en ook ‘n glansende nuwe rekord vir Eric Louw.
Lohan Linde, met ses onderskeidings, het waarnemers aan die gons, nadat hy 100% in Engels Tweede Taal (HG) behaal het en gevolglik die beste presteerder in die provinsie in dié vak was.
René Swanepoel van Eric Louw, met sewe onderskeidings agter haar naam, is aangewys as toppresteerder in die Vhembe Distrik.
Ander uitblinkers is Tarryn Herbert met vyf A’s, Michelle Libert, ook met vyf A’s, Liezel Snyders met vier en Juanel van der Walt met drie A’s.
Die skool se 70 kandidate in die matriekeksamens het altesaam 59 onderskeidings behaal.
Op ‘n spesiale geleentheid, waartydens die skool sy leerders vir hul skitterprestasies vereer het, was verteenwoordigers van die provinsiale Onderwys Departement ook teenwoordig om amptelike gelukwense oor te dra. Die toppresteerders het by die geleentheid die onderwyspersoneel van Eric Louw bedank vir hul toewyding en inspirerende onderrig.
Al sewe toppresteerders van die skool gaan vanjaar verder studeer. Lohan Linde gaan Teologie studeer aan die Noordwes Universiteit (PUK) en Corna Wierenga gaan elektroniese ingenieurswese aan dieselfde universiteit studeer. René Swanepoel wil medies studeer aan die Universiteit van Pretoria, Michelle Libert BComm aan die Universiteit van Stellenbosch, Liezel Snyders Aptekerswese by Noordwes, Tarryn Herbert Kommunikasiewese ook by Noordwes en Juanel van der Walt gaan UCT toe om daar Kommunikasiekunde te bestudeer.
By die Limpopo Provinsie se prysuitdeling op 29 Desember het dié ster-leerders spesiale toekennings van die Provinsiale Departement ontvang.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
