

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 January 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Opgedamde rioolwater wek steeds groot kommer en laat inwoners letterlik na hulle asems snak weens die onhoudbare reuke.
Een van die probleemareas wat almal hul neuse laat toedruk, kom voor by ‘n mangat in Malherbestraat, ‘n klipgooi vanaf plaaslike voedselindustrieë soos die abattoir. Die opgedamde water is rou riool wat reeds na ‘n klein vleiland lyk, kompleet met spesies van watervoëls en paddas wat ‘n verhoogde biodiversiteit aandui.
“‘n Vleiland het die vermoë om water te suiwer en ‘n sekere hoeveelheid afvalstowwe te absorbeer. Maar daar is ‘n perk aan die hoeveelhede wat ‘n vleiland kan absorbeer. As die perk oorskry word, stort die hele sisteem ineen en verander dit in ‘n rioolpoel,” sê prof. Ben Van der Waal, hoogleraar aan die Departement van Biologiese Wetenskappe van die Universiteit van Venda. Prof. Van der Waal het sy kommer in Oktober verlede jaar uitgespreek dat rioolwater ook besig was om oor te spoel in die vleiland wat geleë is in die suidelike deel van die munisipale stortingsterrein.
Die rioolpoel in Malherbestraat wek besondere kommer omdat die herstel en opgradering van die betrokke rioolstelsel skynbaar teen ‘n slakkepas vorder.
By navraag het die munisipale woordvoerder geantwoord dat ‘n buitekontrakteur aangestel is om ondersteuningsdiens aan die munisipale instandhoudingspan te lewer. Die doelwit is om die totale lengte van die rioollyn skoon te maak.
Kleirioolpype word nie normaalweg vervang nie, maar skoongespoel nadat blokkasies verwyder is. In Mei verlede jaar is ‘n spesiale masjien gehuur wat sewe meter diep gegrawe het om ‘n lang stuk ondergrondse rioolpyp te vervang. Die koste daaraan verbonde was R70 000.
Nog ‘n rioolprobleem in dieselfde area word ondervind deur mnr. Willie van der Merwe by die Van der Merwe Saagmeule in Presidentstraat, waar ‘n stroom rioolwater reeds van vroeg Desember in die vleigebied ingestroom het.
“Die reuke wat uit die vlei kom, is verskriklik. Mense vra ons hoe ons hier kan leef,” sê mnr. Van der Merwe. By die saagmeule self is daar ook ‘n rioolprobleem.
“Die munisipaliteit kom gooi chloor op, dan kan ons weer vir ‘n rukkie asemhaal,” sê mnr. Van der Merwe. Dit hinder hom egter dat die nuwe pompstasie wat opgerig is om die probleem in die vlei op te los, nog net ‘n leë dop is.
Die Direkteur van Korporatiewe Dienste van die Makhado Munisipaliteit het in ‘n skrywe, gedateer 26 Januarie, geantwoord dat befondsing van die Vhembe Distriksmunisipaliteit benodig word om die nuwe pompstasie operasioneel te maak.
“Vhembe Distriksmunisipaliteit as implemeterende agent is genader en die probleem sal gou opgelos word,” lui die skrywe.
Die volgende logiese vraag wat inwoners bekommer wanneer hulle die rioolpoele waarneem, is: “Besoedel hierdie riool wat wegsak in die vleie nie uiteindelik ons drinkwater nie?”
Hierop het die munisipale ingenieursafdeling geantwoord dat dit moontlik is, maar dat die water op ‘n daaglikse basis getoets word. Die resultate is openbare kennis en toeganklik vir die publiek. Die versekering is ook gegee dat die chlorineerder in Kortstraat wat chloor by die boorgatwater voeg, in werkende toestand is en geïnspekteer kan word.
Die reuke en opgedamde rioolpoele laat die belastingbetaler snuf in die neus kry in verband met die rioolsuiweringswerke se kapasiteit om nog riool te hanteer.
“Wat sal gebeur as die dorp verder uitbrei of as ‘n reuse instansie soos die maksimum sekuriteit gevangenis groot uitbreidings sou hê?” word gevra. Daarop het die munisipale woordvoerder gesê dat alle groot uitbreidings of ontwikkelings op meriete hanteer word om vooraf vas te stel watter invloed dit op die suiweringswerke sal hê.
Die gedurige rioolprobleme in die dorp het belastingbetalers laat wonder of die munisipaliteit sukkel met die instandhouding van sy ses pompstasies. Die munisipaliteit sê egter dat alle pompstasies op ‘n daaglikse basis nagegaan word. Elke loodgieter het ‘n pompstasie om na te gaan. Te wyte aan die funksionering van die dompelpompe is dit onmoontlik om meganiese foute net so raak te sien. Die tegniese aard van die pompe noodsaak dikwels die inroep van spesialiste om die pompe te installeer of te herstel.
Intussen hou inwoners maar sakdoekies byderhand wanneer hulle verby die rioolpoelareas gaan of die wind van voor af kry.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
