ADVERTISEMENT:

 

Inwoners ontsteld oor hoë boetes

 

News  Date: 28 January 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Boetes wat oploop as die reeds skrikwekkende lisensiegelde agterstallig raak, laat Jan Publiek wonder of daar dan geen beperking op owerhede is nie.

‘n Lid van die publiek het ‘n onaangename ondervinding gehad met hoë boetes toe sy vragmotor se lisensietydperk verstryk het. Die lisensie vir sy vragmotor is R6936, alreeds ‘n onmoontlike bedrag. Die 21 dae grasietydperk het op ‘n Vrydag verstryk en hy het op die Maandag sy lisensie gaan betaal om te vind dat sy boete R693 beloop. Dit het hom die vraag laat vra hoe ‘n owerheid sulke geweldige boetes kan hef. ‘n Ander trokeienaar het ondervind dat sy boetes reeds by die R20 000 beloop.

Die waarskuwing van die plaaslike owerheid lees: “Dit is in u eie belang om u rekening so spoedig moontlik te vereffen, aangesien agterstallige lisensiegelde maandeliks teen die koers van een twaalfde van die normale jaarlikse lisensietarief aanwas en boetes (was aan) teen die koers van een tiende, ingevolge Regulasies 59 (1), (2) en (3) van die Nasionale Padverkeerregulasies (NPVR), 2000 van die Nasionale Padverkeerswet, 1996 (Wet nr. 93 van 1996).

Verder, indien ‘n persoon wat enige boetes of gelde aan enige reigstrasie-owerheid verskuldig is aansoek doen vir enige transaksie by ‘n owerheid, mag so ‘n owerheid weier om daardie transaksie te bekragtig totdat die uitstaande boetes en gelde betaal is. Die bedrag wat as betaling aangebied is mag gebruik word as betaling vir die uitstaande boetes en gelde.”

“Dit is verskriklik baie geld! Na ‘n aantal maande gaan die boetes meer wees as die lisensie. Hoe kan instansies sulke persentasies boete hef? Is daar dan nie ‘n woekerwet ingestel om buitensporige rentes aan bande te lê nie?” vra ‘n trokeienaar.

Mnr. Jock Veldhuysen, bestuurder van Standard Bank, het lig gewerp deur te verduidelik dat die woekerwet slegs van toepassing is op finansiële instellings. ‘n Munisipale instelling is nie ‘n finansiële instelling nie en die woekerwet is nie op hulle van toepassing nie.

Dr. Suwil Rudolph, bekende plaaslike prokureur, sê dat daar na sy wete nie ‘n oorkoepelende wet is wat beperkings stel op boetes en heffings nie.

“Die wetgewer kan eintlik maak wat hy wil. Die beswaarde kan sy lot bekla by die minister van plaaslike owerhede, maar sal waarskynlik meer sukses hê om langs politieke weë ‘n oplossing te kry, het dr. Rudolph gesê.”

‘n Ander klagte is die van mnr. Rex Jefferies wat, soos ander in die dorp, ‘n heffing van R180 vir die kredietkaartformaat lisensie moes betaal, R10 meer as die maksimum voorgeskrewe bedrag. Op die kennisgewing aan hom as lisensiehouer staan dat die uitreikingsgeld sal wissel tussen R10 en R170. Al is hier ‘n bedrag van R10 ter sprake, laat dit dieselfde vraag ontstaan of daar dan geen beperking op owerhede is nie.

DA raadslid me. Marie Helm herinner daaraan dat die grondwet in hoofstuk twee, klousule 33, sê dat elke mens die reg het tot wettige, redelike en regverdige administratiewe aksies.

“Dit is nie net die boetes wat hoog is nie, die eintlike probleem lê by die voertuiglisensiegelde wat buitensporig verhoog is. Waarvoor word die lisensiegelde aangewend? Lisensie en padverwante belasting behoort in ‘n uitsluitlike padfonds gestort te word en vir die instandhouding van paaie aangewend te word. Die lisensiebedrae hou nie verband met die koste van dit waarvoor dit aangewend moet word nie. Wat word alles nog daaruit gesubsidieer?”

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines