

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 January 2005
VIVO – Grondherverdeling, grondeise en plaasbesoeke, tesame met veiligheid en die nuwe wapenwetgewing is hoog op die agenda van die volgende algemene vergadering van die Soutpansberg Landbou-unie.
Dié algemene raadsvergadering van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie word op 16 Februarie in die Boeresaal op Vivo gehou, onder leiding van die nuutverkose voorsitter van die Algemene Raad, mnr. Gideon Meiring.
Mnr. Meiring is op die algemene jaarvergadering van die landbou-unie in Oktober verlede jaar verkies tot voorsitter. Hy kom in die plek van mnr. Dries Joubert, wat tydens die TLU SA Kongres verkies is tot voorsitter van die Noordelike Streek. Die nuwe dagbestuur van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie bestaan uit mnr. Meiring as voorsitter, mnr. Stephan Hoffman as ondervoorsitter en Fritz Ahrens en Bertie Otto, Doors le Roux, Willem Helm en Thinus Schutte as meegaande lede.
Op die vergadering het Kol. T. Snyman gesê dit is nie ‘n finale feit dat SMG gaan sluit nie. Hy het die versekering gegee dat geen kommando ontbind sal word alvorens daar ‘n alternatief in plek is nie. Op die oomblik kan die gebied nie funksioneer sonder die kommando’s nie. Hy het dit duidelik gestel dat die kommando’s nie sal kan optree teen onwettige plaasbesetters nie. Die kommando mag net lewens beskerm. Daarom is dit van die uiterste belang om steungroepe in plek te hê.
Die vergadering het besluit om by te dra tot ‘n fonds om die geldigheid van die nuwe wapenwet in die Grondwetlike Hof te laat toets. Daar is tans nagenoeg 5-miljoen wettige wapens in die land. As elke wapeneienaar R1 per wapen bydra tot die fonds sal daar genoeg geld beskikbaar wees om die wet te toets. Die vergadering het besluit om soveel wapeneienaars as moontlik te versoek om elk R10 per vuurwapen by te dra tot so ‘n fonds.
Die vergadering het kommer uitgespreek oor die gebrek aan voldoende grensbeheer tussen Suid-Afrika en Zimbabwe. Daar was die afgelope twee jaar (tot Mei 2004) 530 uitbrekings van bek-en-klouseer in Zimbabwe en boere is gemaan om veral te let op die beweging van buffels in die gebiede aangrensend aan Zimbabwe. Daar het ook miltsiekte suid van Harare uitgebreek. Boere word versoek om die karkasse van diere wat aan miltsiekte vrek te verbrand, omdat die siekte deur aasvoëls oorgedra kan word. Sulke vrektes moet ook aangemeld word, aangesien dit dodelik is vir mens en dier. Daar was ook uitbrekings van perdesiekte in die gebied.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
