

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 February 2005
MUSINA – Die dapper optrede van ‘n sewejarige seun, wat moontlik die lewe van sy moeder gered het, is ‘n heldhaftige ligpunt in ‘n naweek van ergerlike misdaadgebeure wat die hele dorp aan die gons het.
Die kind se moeder ontvang steeds behandeling in die Unicare Kliniek in Polokwane.
Die 19-jarige seun van die polisie se stasiebevelvoerder op Musina is die hooffiguur in ‘n beweerde gewelddadige insident, wat heelwat emosie ontlok het. Die stasiebevelvoerder self moes verlede Vrydag voor die hof verskyn het in verband met ‘n aanklag van huisbraak en diefstal.
Madautsha Nephawe (19), seun van Supt. M. G. Nephawe, het Maandag vlugtig in die hof op Musina verskyn op ‘n aanklag van poging tot moord, nadat hy Saterdagnag in hegtenis geneem en Sondag op omstrede wyse deur ‘n polisiespeurder op “borg” van R500 vrygelaat is uit aanhouding. Die saak is tot 11 Februarie uitgestel.
Die 19-jarige Nephawe is Saterdagnag omstreeks 22:00 in hegtenis geneem na ‘n insident op die woonperseel waar mev. Brenda Viljoen en haar sewejarige seun Richard besig was om na video’s te kyk. Dit was Saterdag Richard se sewende verjaardag. Omdat dit besonder warm was, het hulle die voordeur oopgelaat.
Volgens getuies het die beskuldigde skielik in mev. Viljoen se woonvertrek verskyn en haar aangeval. Hy het haar na bewering gewurg en haar voertuig se sleutels geëis.
Klein Richard het ongemerk uit die vertrek geglip, oor die tuinmuur geklim en sy pa, wat sowat ‘n blok verder woon, gaan roep. Toe sy pa, mnr. Wouter Viljoen, saam met die polisie en verskeie lede van die buurt by die woonhuis opdaag, was die beskuldigde glo besig om mev. Viljoen aan haar nek na buite te sleep, met die voertuig se sleutels in sy hand. Die beskuldigde het hierop probeer weghardloop en is ‘n ent verder in die straat in hegtenis geneem.
Ernstige omstredenheid omhul die gebeure by die polisiestasie op Musina, waar die klag aangemeld is en die man wat van ‘n ernstige geweldsmisdaad aangekla word, net ‘n paar uur na sy inhegtenisname glo weer vrygelaat is.
Lede van die publiek praat van kru rassistiese uitlatings van die kant van ‘n swart polisie-offisier teenoor blankes wat by die arrestasie betrokke was.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
