

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 February 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die roosverkoper wat die afgelope jare as’t ware ‘n instelling geword het op die hoek van Stubbs- en Krugerstraat, mnr. Innocent Khosa, was die afgelope naweek weer rustig terug op sy pos, nadat ‘n nare wedervaring kort voor Kersfees verlede jaar hom tydelik buite aksie geplaas en amper sy bedryf permanent kortgeknip het.
Mnr. Khosa, wat sowat vyf jaar gelede vanaf Kwazulu-Natal hierheen gekom het, het soos enige goeie entrepreneur ‘n opening in die mark gesien en met ywer en toewyding sy klein bedryf begin, deur bossies vars rose aan verbygangers te verkoop.
By talle verjaarsdae, Moedersdae, herdenkings en vierings, was die bossie rose, wat soms tot laat aand nog op die straathoek beskikbaar was en sommer vinnig so deur die motorvenster aangekoop kon word, ‘n welkome feestelike bestanddeel.
Aan die begin van Desember, met die aanloop tot die groot feesdae, was Innocent se informele sakebedryf ook die teiken van ‘n gewapende rooftog. Dit het hom byna sy lewe gekos.
Terwyl hy laat Vrydagmiddag, 10 Desember, sy bossies vars rose onder die bome naby die tweede dorpsdam gereed gekry het, het twee gewapende rowers skielik uit die bos op hom toegesak en geld geëis. Hulle het hom met messe toegetakel en ernstig beseer. Verbygangers het op sy hulpgeroep gereageer en ‘n ambulans ontbied en hy is na die hospitaal gebring. Die booswigte het in die bos verdwyn.
Na die voorval was Innocent se plek lank leeg. Praatjies het die ronde begin gedoen dat hy die aanval nie oorleef het nie.
Toe hy verlede week weer sy plek met sy rose volstaan, het hy by navraag verduidelik dat hy na die voorval en nadat hy in die hospitaal behandel is, ‘n tydjie huistoe is om te gaan aansterk.
“Ek wou ook met Kersfees graag weer by my mense wees.”
Die meswonde aan sy arms en lyf is nou nog net littekens. Hoewel hy toe die plaaslike Kersfees-stormloop moes misloop, is hy heeltemal slaggereed vir Valentynsdag. Hy glimlag breed: “Ek sal dalk met Paasfees weer ‘n bietjie huistoe kan gaan.”
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
