

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 February 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die omstredenheid rondom die regering se grondhervormingsbeleid is Saterdag (5de) weer op die spits gedryf, dié keer deur die ANC en hul bondgenote tydens ‘n protesoptog.
Alhoewel die sienswyses van boere en grondeienaars uiteenlopend verskil met dié van grondeisers, deel die betrokke partye wel een ongelukkigheid, naamlik die slakkepas waarteen die proses verloop.
‘n Groot groep ANC-aanhangers het Saterdag deur Songozwistraat na die magistraatskantore gemars met slagspreuke van “Land terug vanaf diewe” en plakkate met onder meer boodskappe van “Jou tyd is verby” en “Tyd om te Vat.” Die groep is opgemaak uit lede van die ANC, COSATU (Congress of South African Trade Unions), die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party en SANCO (South-African National Civics Organisation).
By die magistraatskantore het die groep protesgangers ‘n memorandum aan die Vhembe-streek se uitvoerende burgemeester, mnr. Sam Moeti, oorhandig vir die aandag van die provinsiale LUR van Landbou, me. Dekeledi Magadzi.
In die memorandum bekla die ANC die lot van mense wat na 10 jaar van demokrasie, ten spyte daarvan dat hulle baie wettige verblyfreg het, steeds grondloos is. Talle klappe is ook uitgedeel na boere wat daarvan beskuldig word dat hulle doelbewus die proses van grondhervorming op onwettige wyse probeer kelder.
“Ons is hier vandag om te protesteer teen die sluier van stilswye deur boere wat bewus is van sulke onwettighede. Ons het geen ander keuse as om aan te neem dat hierdie stilswye deur niks anders as rassisme gemotiveer word nie …” lees die memorandum onder andere. Derhalwe word persone wat in die pad staan van grondhervorming as rassiste en fasciste gebrandmerk en verdoem. In die memorandum word grondeienaars, wat steeds geld maak uit grond waarvan die grondeis reeds in die staatskoerant afgekondig is, ook verdoem. ‘n Klap is ook uitgedeel in die rigting van sommige lede van die land se regstelsel vir hul beweerde teenkanting teen transformasie. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens is oor dieselfde kam geskeer, rakende polisielede wat op hulle beurt teenkanting bied ten opsigte van transformasie.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
