ADVERTISEMENT:

 

Bo: Lede van die polisie is besig om die duisende pakkies sigarette op te hoop, kort voordat dit vernietig is. Die polisie se plofstofeenheid het bygestaan, aangesien dié tipe sigarette kan ontplof vanweë ‘n hoë teerinhoud. Onder: Die sowat R4,2 miljoen se onwettige sigarette uit Zimbabwe wat verlede week verbrand is.

Miljoene rande se sigarette gaan in vlamme op

 

News  Date: 11 February 2005

 

BEITBRUG – Gevaarlike onwettige sigarette uit Zimbabwe verteenwoordig tans een van die grootste enkele smokkelprobleme oor die internasionale grens in die omgewing van die Beitbrug grenspos.

Die omvang van die voortgesette probleem het die afgelope week aan die lig gekom, nadat 12 miljoen van die onwettige sigarette, waarop beslag gelê is, by die grenspos vernietig is. Die sigarette wat vernietig moes word se verkoopswaarde beloop sowat R4,2miljoen.

Die gesmokkelde sigarette is oor ‘n aansienlike tydperk tydens roetine inspeksies en operasies langs die grens gevind en aan die Staat verbeurd verklaar.

Die Divisie Bestuurder: Regstoepassing van die Suid-Afrikaanse Inkomste Diens (SAID) by die Beitbrug grenspos, Me. Philna van der Walt, het hier in ‘n onderhoud gesê 17 mense is tydens die operasies in hegtenis geneem, aangekla en skuldig bevind.

“Die sigarette moes om verskeie redes vernietig word. Heel eerste het ons ‘n verantwoordelikheid om die Suid-Afrikaanse ekonomie te beskerm. In die huidige geval beteken dit dat ons die Suid-Afrikaanse ekonomie, die plaaslike boere en vervaardigers ‘n verlies van R4,2 miljoen bespaar het. Terselfdertyd het ons ‘n verantwoordelikheid om die inwoners van Suid-Afrika se gesondheid in ag te neem. Die betrokke sigarette uit Zimbabwe bevat ‘n buitengewoon hoë teer- en nikotien inhoud, wat ingevolge Suid-Afrikaanse gesondheidswetgewing ontoelaatbaar is.

“Die sigarette is onder deskundige toesig op ‘n spesiale terrein onder streng beheer vernietig. Die terrein is weg van mense, diere en plante geleë, om te voorkom dat enigiemand of iets in die proses benadeel of beskadig kan word.”

Die SAPD se plofstofeenheid was behulpsaam met die beheerde verbranding van die groot hoeveelheid sigarette.

“Hulle inset was belangrik, omdat so ‘n hoeveelheid hoë teer-sigarette inderdaad geneig is om te ontplof wanneer dit aan die brand gesteek word en ons tot elke prys enige beserings wil voorkom.”

Me. Van der Walt sê twee van die grootste besendings sigarette is in vragmotors en vraghouers gevind. Die res was versteek in taxis en in die bagasie van private persone.

“Heelwat van die onwettige gesmokkelde sigarette is ook gevind in die besit van onwettige immigrante wat die grens Oos en Wes van Beitbrug probeer oorsteek het.”

Die verbrandingsproses om van die gevaarlike onwettige smokkelware ontslae te raak, het na heelwat voorbereidings sowat ‘n halfuur geduur.

Me. Van der Walt het ook waardering uitgespreek vir die bystand wat die Suid-Afrikaanse Weermag verleen het in die opspoor en aankeer van die smokkelaars.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines