ADVERTISEMENT:

 

Boere wil internasionaal nuwe wet bespreek

 

News  Date: 11 February 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die moontlikheid van ‘n internasionale konferensie rakende besitreg, wat wapens insluit, word nou ondersoek.

Die TLU het vandeesweek aangekondig dat hy sal voortgaan om in gesprekke met die owerheid sy standpunt oor die nuwe wapenwet te verduidelik, maar gaan intussen ook geld en steun mobiliseer vir aksie saam met ander rolspelers teen die nuwe wet. Die aangeleentheid sal desnoods tot in die Grondwetlike Hof gevoer word.

Die voorsitter van die Soutpansberg Distrik Landbou-unie, mnr. Gideon Meiring, het vandeesweek gesê die TLU-SA kan nie sy lede se belange dien en terselfdertyd die wet se toepassing aanmoedig nie.

“Die TLU-SA het op verskeie vergaderings indringend gesprek gevoer oor die nuwe vuurwapenwet. Daar is ure lank beredeneer hoe ons ons lede instaat kan stel om wapens van hul keuse in besit te hou. As organisasie is dit vir ons haas onmoontlik om ons mense aan te moedig om mee te doen aan die “wet,” welwetende dat geen waarborge bestaan dat kwesbare lede nie hul wapens ontneem gaan word nie. Ons het sedert 1 Julie 2004 te make met ‘n wet op die beheer van vuurwapens wat onprakties, onbillik, omslagtig, tydrowend en duur is, maar hoe tree ‘n wetsgehoorsame organisasie soos die TLU-SA strydig met ‘n wet op? Die TLU-SA kan nie sy ledebelange dien en die wet se toepassing aanmoedig nie, en wel om die volgende redes:

“Ons boere is uiters kwesbaar op hul afgeleë plase. Die bykans 1 800 plaasmoorde en 9 000 plaasaanvalle getuig hiervan.

“Intussen gaan die kommandos ontbind word en hul pligte deur die SAPD oorgeneem word. Die huidige geweldsmisdaadstatistiek spreek boekdele en dit word aanvaar dat boere se veiligheid ‘n eie (TLU-SA) verantwoordelikheid geword het.

“Die nuwe wet beperk wettige vuurwapen eienaars, maar het niks te make met die onwettige eienaars nie, wat tot soveel as 23 miljoen in sub-Sahara beloop.

“Terwyl kriminele wat hulle skuldig maak aan plaasaanvalle, skakings en transito rooftogte ‘n keuse het van wapens, word ons die keuse ontsê.

“Navorsing het getoon in lande waar weinig wette op vuurwapenbesit is, misdaad feitlik nie bestaan nie.

“Die nuwe wet is strydig met die Grondwet, wat die besit van eiendom waarborg.

“Tot soveel as 100 000 mense kan hul werk verloor weens die afname in die wapenhandel. Sedert 1 Julie 2004 is daar vir die eerste drie maande nie ‘n enkele vuurwapen verhandel nie en talle wapenhandelaars moes hul deure sluit.

“Die duur en omslagtige akkreditasie en administrasieprosesse van die nuwe wet is nie volledig in plek nie en het die wapen en –jagbedryf kunsmatig onder druk geplaas.

“As gevolg van al hierdie redes het die TLU-SA besluit om voort te gaan om in gesprekke met die owerheid ons saak en standpunt te verduidelik.

“Intussen word ondersoek ingestel na die moontlikheid van ‘n internasionale konferensie oor besitreg, wat die reg om wapens te besit sal insluit. Hiermee kan die internasionale soeklig geplaas word op die onaanvaarbare dilemma waarin die wet wettige wapeneienaars plaas.

“Die TLU-SA is ook besig om mense te identifiseer en te akkrediteer om lede teen ‘n billike prys van hulp te wees by die aankope van nuwe wapens.

“Hierbenewens sal ons ook geld en steun mobiliseer vir aksie saam met ander rolspelers teen die nuwe wet.

“Ons as organisasie sal ons nie wend tot kortpaaie en skuiwergate om die uitwerking van die wet te versag nie, maar openlik met die regering gesprek voer oor die aangeleentheid.

“Onder geen omstandighede sal ons met ons mense se lewens en veiligheid dobbel teen ‘n agtergrond van totaal onaanvaarbaar hoë geweldmisdaad en die veiligheidsmagte se bewese onvermoë om effektief op te tree nie.”

Mnr. Meiring se raad aan die breë publiek is: “Pas u wapen nougeset op, raak vertroud daarmee en wend dit oordeelkundig aan. Skakel in by die TLU-SA se steunkringkonsep en dra by tot u eie gemeenskap se veiligheid.”

Die nuwe wapenwet is, saam met veiligheid, grondherverdeling, grondeise en plaasbesoeke, hoog op die agenda van die algemene ledevergadering van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie wat Woensdag, 16 Februarie op Vivo gehou word.

Vroeër is reeds besluit om ‘n beroep te doen op alle wapeneienaars om ‘n bydrae van R10 per geregistreerde vuurwapen te maak sodat die betrokke wetgewing selfs in die Grondwetlike Hof getoets kan word – tot voordeel van alle wettige vuurwapen eienaars.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines